Terwyl die somer einde se kant toe staan en die tyd vir talle verdroogde lande reeds uitgeloop het, het die La Niña-verskynsel steeds nie die beloofde reën gebring vir diegene wat dalk nog ’n bietjie daarby kon baat vind nie.
’n Hardnekkige droogte duur nou oor die grootste deel van die somerreëngebied en oeste en weiding ly groot skade. Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, het teen middel verlede week gesê reën wat nou val, sal min invloed hê, hoewel dit darem kan sorg dat die pitte teen oestyd effens swaarder kan weeg.
Kans op reën verswak
Hy het bygevoeg dat die kans op reën vinnig verswak omdat die tradisionele reëntyd tot ’n einde kom. Die enigste gunstige sein is die teenwoordigheid van die laaste oorblyfsels van die La Niña-verskynsel wat gewoonlik met ’n baie laat seisoen gepaardgaan.
Dié moontlikheid word egter vervaag deur tropiese siklone en laagdrukstelsels in die Indiese Oseaan. Dit het ’n ongunstige uitwerking op reënval. Terwyl boere vroeë ryp op vanjaar se besonder laat aanplantings vrees, veroorsaak die droogte reeds dat plante in elk geval begin afsterf, het Van den Berg gesê.
’n Klein bietjie goeie nuus is dat dit darem lyk of dit nie binne die volgende paar dae gaan ryp nie, ten minste nie tot ná Paasnaweek nie. Die droogte het toegeslaan nadat so te sê alle voorseisoenvoorspellings op ’n nat seisoen gedui het.
Mnr. Jannie Willemse, landboukundige bestuurder van die maatskappy FarmSecure in Bethlehem, sê boere het reggemaak vir ’n nat jaar. Plantdigtheid en bemesting-toediening is in afwagting van bogemiddelde reënval verhoog. Dit beteken die skade is nou soveel groter.
Slegs 200mm tot 350mm
Op lande wat vir FarmSecure in die hele somerreënstreek geplant is, van die ooste tot die weste en selfs die Suid-Vrystaat, was gemiddelde neerslae tot dusver maar 200 mm tot 350 mm.
Die nat grondprofiele in die begin van die seisoen en goeie verspreiding van die reënval het wel verseker dat die gewasse aanvanklik goed gehou het, maar die laaste drie weke was daar groot opbrengsverliese, sê hy.
Boere in die Vrystaat, die Wes- en die Suid-Kaap begin nou voorberei vir wintergraan-aanplantings vanaf April. In die Vrystaat is grondvogtoestande egter só swak dat ten minste 200 mm reën nodig is om aanplantings te regverdig, meen Van den Berg.
Vooruitsigte vir die winterreënstreek lyk ietwat beter. Van den Berg sê ’n sterk semi-statiese hoogdrukstelsel kom oor die sentrale tot oostelike deel van die land voor.
Dit lei daartoe dat koue fronte verder noord as normaal vir dié tyd van die jaar voorkom. Dit kan die kans op reën oor die winterreënstreek in die volgende maande verbeter.
3 April 2012