
Boere in Kalifornië, die staat wat tot onlangs 'n steunpilaar vir Amerika se landbouproduksie was, gaan gebuk onder die ergste droogte in dié land se geskiedenis.
Boere daar gaan slaap met kommer in hul harte en staan op met onsekerheid, het mnr. Guy Whitney by die onlangse Subtrop-bemarkingsimposium in Witrivier gesê.
Whitney, wat vir 29 jaar in Kalifornië gewoon en in die sitrusbedryf gewerk het, sê Suid-Afrikaanse boere kan in die toekoms 'n groot rol speel in die verskaffing van produkte wat Kaliforniese boere tradisioneel produseer.
Die onlangse voorstel van die Amerikaanse departement van landbou (USDA) om Suid-Afrikaanse sitrus uit gebiede waar swartvlek voorkom, tot Amerika toe te laat, meen hy is maar net die begin. Hy glo soortgelyke reëlveranderinge ten opsigte van avokado's kan volg.
Maar selfs al begin dit vandag weer normaalweg reën in Kalifornië, gaan produksie nie gou weer terugkeer tot vlakke waar dit vóór die droogte was nie, veral in die suide, sê Whitney. Té veel boorde het permanente skade.
Mere en damme is leeg en ondergrondse watervlakke het sedert 2011 met meer as sewe meter gedaal. Boonop voorspel klimatoloë dat hoër temperature 'n 40% afname in avokadoproduksie oor die volgende 32 jaar in Kalifornië teweeg kan bring.
Whitney het genoem dat een spesifieke restaurantgroep reeds oorweeg om avo's van sy spyskaart te verwyder. Hierdie groep alleen gebruik tans 15,6 miljoen kilogram avo's per jaar in sy disse.