
“Dit is waarskynlik die beste ‘landsreën’ wat tot dusver in die 2018-’19-somer voorgekom het,” sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou. “Die droogte is geensins gebreek nie.”
Oor dele in die Sentraal- en Suidoos-Vrystaat, soos Senekal, Arlington, Reitz en Marquard, het in baie gevalle minder as 10 mm geval. Oor die Noord-Kaap het reënval ook baie wisselvallig voorgekom. Die droogte duur voort oor veral die suidwestelike dele van die Noord-Kaap en die westelike dele van die Kalahari.
Van den Berg sê die reën wat wel voorgekom het, het gesorg dat toestande vir die somergraan-aanplantings gestabiliseer het. “Veral oor dele van Noordwes en die Wes-Vrystaat, ingesluit die distrikte Hoopstad, Hertzogville en Dealesville, het goeie neerslae voorgekom en die greep van die droogte is tydelik verlig.”
Droogtegeteisterde gebiede in die Oos-Kaap en aangrensende dele van die Wes-Kaap het ook goeie reënneerslae aangeteken. “Jamestown in die Oos-Kaap het byvoorbeeld tot 70 mm gekry in die eerste paar dae van Februarie. Opvolgreën kan die greep van die droogte in dié gebiede breek, wat tot gevolg kan hê dat winterweidingstoestande nog redelik goed kan wees,” sê Van den Berg. “Die reën kan ook gebruik word om winterweiding soos hawer te plant.”
Opvolgreën
Van den Berg sê voorspellings vir die res van die somer en die herfs bly baie onseker. “Opvolgreën oor groot gedeeltes van die Vrystaat wat nie reën gehad het nie, bly noodsaaklik voor middel Februarie. Verdere reën moet in die tweede deel van Februarie en veral in Maart oor die grootste deel van die somergraangebied voorkom. Dan kom die meeste van die laat aanplantings in die westelike produksiegebiede in die reproduktiewe stadiums.”
Dit is vir boere wat nou reën gekry het, te laat om somerkontantgewasse aan te plant, maar daar is nog tyd om voersorghum vir vee te plant, hoewel produksie vinnig kan afneem met die naderende herfs. “In baie gebiede is weidingstoestande steeds ondernormaal as gevolg van die afgelope paar jaar se droogte. Derhalwe is die drakrag van natuurlike weiding swak, selfs al kom reën voor.”
Kort- tot mediumtermynvoorspellings dui vir die res van Februarie en Maart op reënvaltoestande wat ooreenstem met die gemiddelde op lang termyn. “Die risiko vir droogte bly steeds groot oor die westelike en suidwestelike dele van die land,” sê Van den Berg.
Op kort termyn kan sikloon- en tropiese laagdruk-aktiwiteite oos van Madagaskar redelik droë toestande tot ongeveer 9 Februarie veroorsaak, waarna dit gaan verswak en vinnig suidooswaarts wegbeweeg. “Vanaf ongeveer 9 Februarie lyk dit asof tropiese vog oor Namibië kan inbeweeg om die toestande vir reën te laat verbeter oor die oostelike dele van Namibië, en die noordwestelike, sentrale, oostelike en suidoostelike dele van Suid-Afrika. Min of geen reën word verwag oor die suidwestelike dele van die Noord-Kaap, die hele Wes-Kaap en groot gedeeltes van Limpopo,” sê Van den Berg.
El Niño
Volgens die Australiese Buro vir Meteorologie dui die Enso- (El Niño Suidelike Ossillasie) indeks aan dat ’n 50%-kans bestaan dat die verwagte El Niño-weerstelsel tydens die herfs of winter kan ontwikkel.
Die meeste klimaatmodelle dui tans aan dat Enso-neutrale seevlaktemperature sal voortduur, hoewel die warmer oseaantoestande wat tans voorkom en warmer as normale seevlaktemperature wat later in die jaar verwag word, steeds die moontlik van ’n El Niño-stelsel aandui.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.