
As die droogte in die Wes-Kaap nie gou gebreek word nie, kan dit die langtermyngroei van die provinsiale en nasionale ekonomie benadeel.
Só sê mnr. Dawie Maree, inligting- en bemarkingshoof van FNB Landbou.
Die Wes-Kaap is ’n groot uitvoerder van landbouprodukte, soos sagtevrugte, wyn en toenemend sitrus. Die landbou dra sowat 4% tot die bruto binnelandse produk (BBP) van die Wes-Kaap by en dié provinsie 24% tot die nasionale BBP.
Maree sê die landbou en voedselverwerking sorg vir 18% van die provinsie se werkgeleenthede en die droogte gaan seisoenale werkgeleenthede in die vrugtebedryf erg raak.
Die eerste kwartaal van vanjaar se 215 000 werknemers in die Wes-Kaapse landbousektor was 5,9% minder as ’n jaar gelede.