
Die nasionale rampbestuursentrum het gister in die Staatskoerant afgekondig dat die droogte sy status as nasionale ramptoestand kwyt is sodat die regering meer hulpbronne aan die bestuur van die Covid-19-pandemie kan toewy.
“Jy kan jou kop net in ongeloof skud oor hierdie ondeurdagte en reaksionêre aankondigings deur die nasionale rampbestuursentrum,” sê Symington. “Die regering het die afgelope paar jaar geen daadwerklike poging aangewend om die langtermyn-impak van die langdurige droogte in droogtegeteisterde gebiede op kommersiële landbou te verlig nie.”
Hy sê Agri SA se herhaalde pleidooie dat die regering die kommersiële landbousektor met ’n finansiële hulppakket moet bystaan, het op dowe ore geval. “Die gebrek aan bystand het ’n uiters negatiewe impak op die volhoubaarheid van die Land Bank gehad asook ander finansiële instellings wat boere in die gebiede finansier.
“Agri SA wil graag die navorsing en verbandhoudende data sien wat tot hierdie aankondiging gelei het. Indien hier bloot van die heup afgeskiet word, moet koppe rol.”
Volgens hom is die regering se ramphulp van R139 miljoen weens die nasionale droogteverklaring ’n fraksie van die werklike koste wat die landbousektor die laaste vyf tot agt jaar beleef het. “Die regering moet omvattende redes gegrond op deeglike navorsing verskaf waarom die droogte nie langer as ’n nasionale ramp bestempel word nie. Nog meer, wat gaan die regering doen om kommersiële landbou by te staan in gebiede waar boere oor jare heen erge droogte ervaar?”
Hy sê dit is kommerwekkend dat dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, nie ag slaan daarop dat groot dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap steeds gebuk gaan onder die grootste droogte die afgelope 100 jaar nie.
Genadelose klap
Me. Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder vir landbou, sê dié party beskou die regering se opheffing van die droogteramptoestand as ’n genadelose klap in die gesig van kommersiële boere asook voedselsekerheid in Suid-Afrika. “Dié droogteramptoestand is op 4 Maart 2020 in werking gestel en sonder seremonie opgehef nadat die regering versuim het om dit teen 4 Julie 2020 te verleng.
“Dr. Tau voer aan dat hy, in oorleg met die provinsiale rampbestuursentrums, besluit het om die droogteramptoestand op te hef ‘nadat die omvang en erns van die droogtetoestande heroorweeg is.’
“Die regering het in ’n skriftelike antwoord aan die portefeuljekomitee van landbou erken dat hy slegs ten opsigte van ‘marktoegang en sertifisering’ hulp aan die boeregemeenskap bied.”
Sy sê ’n tweede golf van ontwrigting in Suid-Afrika is aan die kom deurdat boere weens die meerjarige droogte nie kos kan produseer nie en ook nie kan staatmaak op ’n regering wat ’n meerjarige droogte en moontlike voedselkrisis afmaak as onbelangrik nie.
“Die ANC-regering beskou die landbougemeenskap as vanselfsprekend en besef nie die bedreiging vir voedselsekerheid indien landbouers nie die nodige droogtehulp en ondersteuning van die regering ontvang nie.
“Die VF Plus sal amptelike vrae hieroor indien en eis dat alle inligting wat tot hierdie besluit bygedra het, aan die komitee bekendgemaak word.”
Agri SA het met die privaat sektor hande gevat om verligting te bring aan boere, plaaswerkers en gemeenskappe wat deur die voortslepende droogte geraak word. Vind Agri SA se verslag oor die droogtehulpverlening hier.