Droogte is nie ’n vreemde verskynsel vir veeboere in die Noord-Kaap nie en hulle het gewoonlik planne of bronne om dit te oorbrug. Die huidige droogte hou egter langer aan as waaraan hulle gewoond is. Die regering is traag om te help en toon klaarblyklik min begrip vir die situasie.
Krimpende winsmarges maak dit moeiliker om geld weg te sit vir ongunstige tye, sê mnr. Willem Symington, ondervoorsitter van Agri Noord-Kaap. “Ons almal ken droogte. Droogtes wat ander mense laat ondergaan, is vir ons seisoensdroogtes. Ons het die vermoë en kundigheid ontwikkel om droogtes te oorleef.”
Met hierdie voortslepende droogte is die verwagting dat Suid-Afrika se goeie rampbestuursplan in werking gestel sal word, dog Symington sê dit is juis waar die knoop lê. “Die regering vra gedurig wat boere gedoen het om voor te berei op die droogte en wat hulle nou doen om deur die droogte te kom. Die kort antwoord is dit is ’n manier om die staat se verantwoordelikheid te probeer ontduik deur die blaam na die boere te verskuif, en toon ook ’n gebrek aan kundigheid.”