
In die Noord-Kaap sal sowat R85 miljoen van die R300 miljoen wat deur die departement water en sanitasie bewillig is, vir watervoorsieningsprojekte in landelike gebiede gebruik kan word. In die Vrystaat sal dit R76 miljoen van die voorgenome R900 miljoen wees.
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê die gebied se oorblywende ramphulp van sowat R215 miljoen is vir watervoorsieningsprojekte in die munisipale gebiede geoormerk. “Die R85 miljoen vir die herstel van boorgate in landelike gebiede word deur Sedibeng-water geadministreer, terwyl waterwese steeds as die beskermheer van die projekte optree,” sê hy. Die landbou-organisasies Agri Noord-Kaap, Afasa en Nafu sal met die beplanning van dié projekte help.
Onkonsekwent
Jansen het die feit betreur dat hulp aan munisipaliteite onder die vaandel van rampdroogtehulp geskied. “Dit is jammer dat die regering onkonsekwent is in sy toekenning van hulp in die verskillende provinsies en dat mensgemaakte krisisse weens swak munisipale onderhoud en bestuur die meeste voordeel trek en as’t ware die grootste hap uit die koek kry,” sê hy. “Dit is te betreur dat miljarde rande vir instellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens beskikbaar is, maar nie vir die landboubedryf nie.”
Agri Noord-Kaap gaan hom nou beywer om die verslag vir vroeë rampwaarskuwings as deel van sy volgende strategie te laat bywerk. “Ons gaan ook druk op nasionale vlak toepas om hulp van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling te bewerkstellig, veral nadat die provinsiale rampbestuur die uitwerking van die droogte in die Noord-Kaap geverifieer het,” sê hy. Die departement se behoeftebepaling vir die gebied beloop R688 miljoen om Noord-Kaapse boere in staat te stel om 30 grootvee-eenhede (GVE) drie maande lank te kan voer en in die geval van kleinskaalse boere 10 GVE.
Agri Noord-Kaap gaan ook druk toepas dat departemente se begrotings wat nie bestee is nie, hertoegewys word. ’n Voorbeeld hiervan is die jaarlikse begroting van R2 miljard vir die vestiging van agriparke. “Hoe kan jy opkomende boere in agriparke met marktoegang help as daar nie produksie is nie? Dié geld kan eerder gebruik word om die landbouproduksie op grondvlak te stabiliseer,” sê hy.
Oos-Kaap
In die Oos-Kaap verstryk dié provinsie se droogteverklaring tot rampgebied eersdaags.
Mnr. Retief Odendaal van die DA het mnr. Oscar Mabuyane, die Oos-Kaapse premier, versoek om die droogteverklaring op ’n maandgrondslag te verleng voordat dit verval. Odendaal betreur die provinsiale departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming se hantering van die droogtehulp.
Die Oos-Kaap het R643 miljoen vir ramphulp van die nasionale regering aangevra en R74 miljoen is uit die provinsiale begroting beskikbaar gestel. Die behoeftebepaling van die georganiseerde landbou om die uitwerking van die droogte die hoof te bied, beloop bykans R1,8 miljard.
Volgens Odendaal is daar benewens die nood in landbougeledere ook die dreigende nood van waterskaarste in stedelike gebiede wat die ramp kan vererger.