
Gedurende die 2013-'14-boekjaar was die landbou-handelsomgewing die moeilikste in die afgelope agt jaar. 'n Tweede droogtejaar tesame met uitdagende makro-ekonomiese elemente het landbouers binne die Senwes-gebied nadelig beïnvloed, sê Senwes in 'n persverklaring.
Die Senwes-groep se finansiële resultate tot 30 April reflekteer 'n omset van R11 476 miljard en 'n wins na belasting van R251 miljoen – 'n afname van 17,3% en 18,2% onderskeidelik, vergeleke met die vorige jaar. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan 'n afname in besigheidsaktiwiteite ná twee opeenvolgende droogteseisoene.
Laer graanvolumes is deur Senwes se silonetwerk gehanteer en produsente se besteding aan kapitaalgoedere en insetmiddele is teruggesny en uitgestel na volgende seisoene. Mededinging in die krimpende markplek was fel en Senwes het bewus geraak van heelwat plaaslike en internasionale maatskappye wie se modelle ten alle koste markaandeel probeer beskerm het.
Ten spyte hiervan het wins na belasting uit voortgesette bedrywe met 4% verhoog, hoofsaaklik weens die goeie prestasie van die Senwes Meganisasie- en Senwes Credit-afdelings.
Volgens Francois Strydom, besturende direkteur, is die boekjaar gekenmerk deur uitdagende produksietoestande, wat ’n direkte effek op die maatskappy se klantebasis en gevolglik op die Senwes-groep gehad het. Die westelike gedeelte van die land (wat hoofsaaklik Senwes se klantebasis verteenwoordig), het vir die afgelope twee en 'n half jaar 'n afwaartse siklus beleef weens droogte, terwyl die oostelike gedeelte van die land gunstiger produksietoestande ervaar het.
“Ten einde die risiko geassosieer met afwaartse siklusse in landbou te verlaag, volg Senwes 'n diversifikasiestrategie, wat die konsentrasie van risiko versag. Dié strategiese doelwit is weer eens suksesvol toegepas ten einde die lae produksieopbrengs, wat die Senwes-silo’s op die laagste vlakke sedert die inwerkingtreding van die vrye mark gelaat het, teen te werk,” het Strydom gesê.
Die direksie het 'n finale dividend van 22 sent per aandeel (2013 – 35 sent per aandeel) vir die jaar geëindig 30 April 2014 verklaar, onderhewig aan bekragtiging deur aandeelhouers.