
Die bedryfsliggaam bestempel die hawe se prestasie-uitset in
onlangse weke as “onbevredigend”.
“ ’n Gesamentlike poging deur Transnet en ander belanghebbendes is nodig om die volumes in die komende weke te bestuur, veral met gure weer (wind) wat in die komende week voorspel word,” lui die jongste nuusbrief van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati).
Volgens me. Antoinette van Heerden, bestuurder van logistieke sake by die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF), word skepe in die Kaapse hawe opgehou hoofsaaklik weens ongunstige weerstoestande, ’n tekort aan toerusting en bedryfsprobleme.
“Skepe kon by tye nie die hawe binnekom nie omdat vraghouerstapels vol was. Die FPEF werk nou met die hawebestuur saam om oplossings te vind.”
Die sterk, langdurige wind wat vir die komende week voorspel word, sal waarskynlik ook ’n invloed hê op die werking in die hawe.
“Ons verwag ’n toename in die skepe wat geanker word, asook in skepe wat liewer by die Kaapse hawe verbyhou omdat wagtye te lank is en dit nie vir hulle finansieel volhoubaar is nie. Ons praat met die hawe oor ’n herstelplan terwyl ons ons spitstye binnegaan.”
Fuji Bay kan help
Sati het produsente versoek om alternatiewe hawens te oorweeg, wat beteken hul druiwe sal met padvervoer soontoe geneem moet word. ’n Ander moontlikheid is om die Fuji Bay, ’n konvensionele skip waarin druiwe in ’n verkoelde area van die skip gelaai word, te gebruik om uit te voer. Dié skip kan in die negende en tiende week die Kaapstadse hawe aandoen indien daar genoeg belangstelling is.
“Dis nie ’n ideale situasie nie, maar dit kan help om die opeenhopings in die hawe te verbeter,” lui die nuusbrief.
Mnr. Jacques Ferreira, inligtings-en-stelselbestuurder by Sati, sê die meeste druiwe is destyds, voor die tyd van verkoelde vraghouerskepe, op dié manier uitgevoer.
“Ons probeer tans saam met Hortgro bepaal of daar ’n behoefte is vir die Fuji Bay om hier aan te doen, dan sal ons dit vasmaak. Dis egter ’n duurder opsie, maar die gehalte van die druiwe sal nie benadeel word nie.”
Kleiner oes
Tot dusver is sowat 37,6 miljoen kartonhouers (ekwivalent van 4,5 kg) uitgevoer dié seisoen. Dis ’n afname van sowat 10% teenoor verlede jaar. Meer as 50 miljoen kartonhouers is reeds geïnspekteer vir uitvoer.
Die bedryf sal binne die volgende week of twee sy spitsseisoen tref. Op die oomblik pak die Olifantsrivier-, Bergrivier- en Hexrivierstreek druiwe.
Die Olifantsrivier se oes is tot dusver sowat 14% kleiner as verlede jaar, hoofsaaklik weens ongunstige weerstoestande. Die Bergriverstreek lyk belowend, met die meeste kultivars wat aan produsente se verwagtige voldoen of dit oortref. Dié area se oes is tans sowat 15% groter as verlede jaar.
Ook in die Hexriviervallei lyk volumes rooskleurig. Altesaam 12,6 miljoen kartonhouers uit die streek is tot dusver vir uitvoer geïnspekteer. Dit is ‘n 25%-toename in die volumes. Die algehele volumes uit dié streek sal egter na verwagting effens laer wees, omdat die seisoen vroeër was. Alison, Scarlotta, Autumn Royal en Crimson word tans gepak, met die meeste van die streek se Autumn Crisp wat klaar gepak is. Die gehalte, korrelgrootte en kleur lyk oor die algemeen goed.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.