Die syfers rondom ekonomiese herstel in Europa, die VSA en ontwikkelende lande toon dat die kanse van ‘n “dubbel-resessie” klein is, sê mnr. Dawie Klopper, beleggingsekonoom by die PSG-groep.
Hy het Donderdag (2 September) tydens Agri Gauteng se jaarvergadering opgemerk dat hy nie verwag dat die land binnekort weer ‘n resessie sal betree nie.
“Ek dink konserwatiwiteit binne die mark lei tot die onlangse berigte van ‘n ‘dubbel-resessie’. Ek is wel nie seker of dit regverdig is om dit af te lei nie. Ek verwag wel dat die ekonomie stadig gaan herstel,” vertel Klopper.
Gesonde rand- en dollar-vlakke?
Volgens Klopper is die rand-dollar wisselkoers tans te sterk en sal hy wil sien dat dit op ‘n vlak van R8,50 stabiliseer. Dít behoort die land en die landbousektor se mededingendheid op internasionale markte te verbeter. Klopper het opgemerk dat die sterk rand een van die redes is vir die groot hoeveelheid produkte wat tans die land binnekom wat boere se produktiwiteit bedreig.
Wat rentekoerse aanbetref, voorspel Klopper ‘n daling van 50 basispunte wanneer die Reserwebank volgende week sy jongste rentekoersaanpassing aankondig. Hy meen die bank sal ook die land se mededingendheid in ag neem en derhalwe rentekoerse verlaag.
3 September 2010