Om die 81-jarige Duimpie Bayly se bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf te probeer opsom, is ’n onbegonne taak. Dit sou gelykstaande wees daaraan om die beste eienskappe van elke kultivar in ’n enkele bottel wyn te probeer saamvat.
Sedert hy op Woensdag 11 Augustus op sy kleinhoewe by Stellenbosch aan ’n hartaanval oorlede is, kan die plaaslike wynbedryf nie uitgepraat raak oor die verskeie maniere waarop hy die bedryf bevorder het nie.
De Wet Viljoen, wynmaker van Neethlingshof, het saam met Bayly in die bestuurskomitee van die Pinotage-vereniging gedien. De Wet, tans die ondervoorsitter, sê dit is baie moeilik om alles op te som wat Duimpie vir die bedryf en as vriend en mentor vir hom en vele ander mense beteken het.