
Northmec, die enigste verspreider en invoerder van Case IH-trekkers, stropers, spuite en landboutoerusting, het 'n indrukwekkende uitstalling van nuwe produkte by die Equidome Event Hall in Kyalami aangebied, waarheen sowat 1000 boere genooi is.
Vanjaar vier die Case IH-handelsmerk ook sy 175ste jaar as vervaardiger van wêreldklas-plaasmasjinerie. Die blinkste plaasmasjiene op dié spesiale dag was die Case IH 9240 Trac-stroper (foto hieronder) en die Magnum 380 CVT Trac-trekker.
Die 9240 is die grootste model in die Case IH-reeks en een van die grootste beskikbare stropers ter wêreld. Met die voortreflike AFX Axial Flow-tegnologie, wat reeds oor 50 jaar bewys is, het hierdie masjien die bewondering van die groot groep boere afgedwing.
Hoë kapasiteit dorswerkDie 16 liter-FPT-enjin bied oorgenoeg krag vir hoë kapasiteit dorswerk. Die vergrote sif-area maak die eindproduk soveel meer aanvaarbaar en lewer graan van die hoogste gehalte. Met die AFS-moniteringstelsel, sowel as die stuuroutomaat-funksie (auto-pilot) wat as standaard verskaf word, is hierdie masjien 'n ware plesier om te bestuur – veral as die stroper totale beheer by die operateur oorneem.
Die Magnum 380 CVT Trac-trekker is deel van die oorspronklike Magnum-nalatenskap wat reeds sedert 1987 so suksesvol is. Die bewese CVT-ratkas met sy outomatiese ratwisseling maak elke rit ‘n plesier. Die Magnum se kajuit is die grootste in sy klas en werk op 68 desibel ook die stilste op die mark. Die FPT 8,7 liter-enjin bied 'n totale maksimum kraglewering van 410kW, wat hom ook die sterkste in sy klas maak.
Verbintenis tot diensMnr. Tony Sinclair, uitvoerende hoof van die CEG Groep, het die groot groep boere wat die uitstalling bygewoon het, verwelkom. Hy het Northmec se verbintenis tot topgehalte-kliëntediens bevestig en belowe om sterk te fokus op onderdele, na-verkope diens en die beste beskikbare produkte teen die beste pryse.
Northmec besturende direkteur, mnr. Johan van der Merwe, het 'n oorsig van die afgelope vyf jaar van Northmec se vordering gegee. Beleggings in 'n nuwe monteringsaanleg, en 'n beduidende toename in die kapasiteit van die onderdele-pakhuis, is ook afgehandel. Die Red Excellence-program, wat die nuwe bedryfstandaard by Northmec is, is suksesvol aan verskeie takke en handelaars bekendgestel. Northmec het ook sy belofte gehou om die moontlikheid van nuwe takke te ondersoek, en as gevolg daarvan is nuwe handelaars aangestel om Northmec se voetspoor te vergroot.
Twintig boere toer na VSADie eerste 20 kliëntebestellings vir nuwe masjiene op die dag is beloon met 'n reis na Amerika om al die groot trekker- en stroperaanlegte te besoek. Dié gelukkige kopers sal ook die 2017 Farm Progress Show bywoon – beslis 'n wonderlike voorreg!
Vanjaar vier die Case IH-handelsmerk sy 175ste jaar as vervaardiger van wêreldklas plaasmasjinerie. Dit het begin in die Amerikaanse staat Wisconsin, aan die oewer van die Rootrivier, waar die stigter Jerome Increase Case die Racine Threshing Machine Works gevestig het om 'n revolusionêre masjien te bou om die skeiding van graan te bespoedig.
"Ek vind dit wonderlik om te sien hoe ver die boerderybedryf en ons maatskappy in die afgelope 175 jaar gekom het. Ten spyte van talle uitdagings, is ons sterker as ooit tevore," het Andreas Klauser, die trotse handelsmerkpresident van Case IH, gesê.
Northmec is die oudste en grootste maatskappy van sy soort in Suid-Afrika, en verskaf toerusting en masjienerie aan die plaaslike landboubedryf sedert 1869.
* Vir meer inligting oor Northmec en Case IH-produkte, kontak die nasionale verkoopsbestuurder, mnr. Arno du Plessis by telefoon +27 71 687 5227.