
Volgens boere in die omgewing het hulle nog nooit soveel ooievaars op een plek beleef nie.
Die plaas Springbok naby die Teebus-koppe tussen Steynsburg en Middelburg waar van die ongewone tonele gesien is, behoort aan dr. Francois Triegaardt, ook ’n deeltydse bees-en-besproeiingsboer. Hy is ’n veearts in die Kaap wat in perde en wild spesialiseer.
“Dit was ongelooflik om soveel ooievaars, seker 5 000 voëls, te sien. Hulle was dae lank op die veld waar hulle ook aan dooie sprinkane gevreet het. Die sprinkane was gelukkig net 12 uur op die plaas, maar het heelwat skade aan die grasveld aangerig voordat hulle bespuit is. Drie dae later het die swerm voëls neergesak.
“Ons gebruik bio-afbreekbare gif wat op sekere organismes soos die sprinkane werk. Die gif is binne 36 uur afgebreek. Met dié dat die voëls sprinkane vreet, is daar nog ’n skakel in die voedselketting. My dogter, ook ’n veearts wat besig is met spesialisstudies in perde-sjirurgie, reken ook die voëls bemes die grond.”
Triegaardt is opgewonde oor die nege aasvoëls wat verlede week aan beeskarkasse gevreet het nadat een van sy koeie gevrek het weens probleme terwyl sy gekalf het. “Hoewel die bees ongelukkig dood is, was dit vir my en die plaasbestuurder wonderlik om ook die aasvoëls op die plaas te sien.”
Hy is nie te erg deur die droogte geraak nie, maar hy verwelkom die goeie reën van die afgelope maande. “Die 25 mm reën wat op die nag van 14 Januarie geval het geval, was welkom. Ons het van Augustus tot Desember 2021 reeds 160 mm reën gehad. Teen middel Januarie het ons 60 mm reën vir die maand gehad.”
1 km² groot sprinkaanswerm
Mnr. Tyran van der Struys, ’n plaaslike boer en sprinkaanbeampte in die distrik, sê hulle gebruik die veiligste gif beskikbaar, soos deur die departement van landbou voorgeskryf. “Die swerm wat op Triegaardt se plaas aangekom het, was in die lug 2-3 km² groot. Op die grond het die swerm 1 km² groot gesit. Ons het 70% van hulle doodgemaak. Die insekte word vroegoggend bespuit wanneer hulle nog op die bosse rus. Soggens is daar nie veel wind wat die wolke gif wegwaai nie. Ons gebruik blasers of rugsakpompe om te bespuit.”
Hy meen die ooievaars vreet meesal dooie sprinkane, soos die kraaie ook doen.
Op 19 Januarie het hy met kommer voetgangersprinkane opgemerk, wat beteken dat nog vlae sprinkaanswerms aan die kom is. “Die volgende vlae sprinkane gaan nog erger en groter wees, ook omdat die reën so vroeg in die seisoen geval het. Die grootste swerms is opgemerk by Colesberg, waar hulle in ’n noordelike rigting vlieg, asook by Noupoort en Prieska.”
Dr. Doug Harebottle, waarnemende hoof van die Sol Plaatje-universiteit se risiko-en-kwesbaarheid-sentrum in Kimberley, sê hy wens hy was daar om die skouspel van witooievaars te sien.
“Dit is ongelooflik om so baie witooievaars so ver suid in Afrika te sien. Ek het al sowat 100 voëls by Douglas gesien, maar 5 000! Die witooievaars broei eintlik in Europa en Wes-Asië, hoewel daar ook ’n klein bevolking in die Wes-Kaap is. Na dié somer beweeg hulle suid vanuit Europa tot onder die Sahara-woestyn. As daar nie genoeg insekte is om aan te vreet nie, beweeg hulle na Oos-Afrika. As daar nie genoeg kos is nie, vlieg hulle verder suid. Die ongelooflikste aspek is hoe hierdie voëls weet dat daar so baie reën in Suider-Afrika gaan wees wat der miljoene insekte meebring. Hulle het een of ander omgewinginstink wat hulle na reën en gepaardgaande insek-aktiwiteite lei.”
Poolse navorsers het van dié voëls met GPS-toerusting toegerus, waarvan een by Lichtenburg en later by Mahikeng opgespoor is. Dit bevestig dat van die voëls vanjaar ver suid gemigreer het.
“ ’n Mens weet nie of al die voëls saam beweeg het nie, en of dit verskillende groepe is wat hier bymekaar gekom het nie.”
Europese navorsers aan wie hy die video gestuur het, was ook gaande oor die buitengewone tonele. Volgens Harebottle het hulle gewonder of die ooievaars net uit Europa kom, of dalk ook van Senegal waar die voëls ook opgemerk is. Dit was interessant dat die ooievaars op die video orent staan en nie op die grond vreet nie. Daar is ook nie vlieënde sprinkane sigbaar nie. Gedragstudies oor watter sprinkane die witooievaars eet – dood, verswak of gesond – kan insiggewend wees. Die residuvlakke op die sprinkane wissel as ’n gevolg van die sprinkaan se fisiologiese toestand.