
Duitsland beoog om sekere omgewingsbeleid op te skort om gewasproduksie ‘n hupstoot te gee, berig Time (bit.ly/3teUsqp).
Die stap volg op die bedreiging wat Rusland se inval in Oekraïne vir wêreldwye graan- en oliesadevoorrade inhou.
Luidens die berig sal boere toegelaat word om voergewasse in voorheen ekologies beskermde gebiede te saai. Dit sal volgens mnr. Cem Özdemir, Duitse minister van landbou, die land se strategie om die mededingendheid van huishoudelike, proteïenryke peulgewasse soos ertjies en bone te verhoog.
Die maatreëls moet help om in die vraag na voer in die streek te voorsien, die uitwerking van stygende insetkoste vir boere te versag en selfvoorsiening te versterk.
Volgens Time het Özdemir gesê die oorlog het die kwesbare dele van die Duitse landbou uitgewys. “Ons maatreëls is dus daarop gemik om vinnige hulp te verleen, en om die landbou as geheel minder kwesbaar vir krisisse te maak.”
Duitsland se beskermde gebiede wat eens buite perke vir boerdery was, was in 2021 oor sowat 1,2 miljoen ha versprei.
Die Europese Unie is ’n groot invoerder van mielies, dikwels vir voer, en meer as die helfte van sy invoer die afgelope tyd was van Oekraïne.
Dr. Jasper Slingsby, dosent aan die departement biologiese wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad, sê hy is versigtig om kommentaar te lewer omdat hy nie die volle omvang van die konteks en kompleksiteit van die kwessie het nie.
Tog lyk dit vir hom na net nog ’n voorbeeld van waar die mensdom probeer om hom uit ’n krisis te kry deur immerdalende natuurlike kapitaal te bestee. “Daar gaan binnekort nie meer natuurlike kapitaal oor wees om na probleme te gooi nie.”
Hy besef iets moet gedoen word, maar glo alternatiewe wat nie so ’n groot impak op die omgewing het nie, moet eers oorweeg word.
Hy gebruik die voorbeeld van die onlangse groot droogte in die Wes-Kaap en hoe ’n verandering in mense se gedrag en houding (ten opsigte van watergebruik) “dag zero” afgeweer het, nié die ander waterplanne, soos boor vir water, nie.
In die geval van Duitsland lyk dit vir hom asof die plan is om omgewingswetgewing ter wille van groter voer- en proteïenproduksie op te skort. “Daar moet tog ander maniere wees om die produktiwiteit van proteïenverbouing te verhoog sonder om die grondgebruikspoor te vergroot.”
Volgens hom is die probleem dat gedragsveranderinge, soos ’n verandering in menslike dieet, daar nodig sal wees. “Gedragsverandering is selde die eerste opsie, maar dis dikwels die beste oplossing.”