
Mnr. Garth Simpson, die boer van Dundee wat van moord aangekla word ná ’n skietvoorval op sy plaas, sal in aanhouding bly tot sy saak op 14 Desember weer voorkom.
Die saak het vandag voorgekom vir die oorhandiging van die ballistiese verslae. Die saak is uitgestel sodat die staatsaanklaer die dossier kan afhandel.
Die burgerregteorganisasie AfriForum is egter bekommerd oor die hof se hantering van Simpson se borgtogaansoek. Luidens ’n verklaring deur die organisasie het die hof meer as ’n maand geneem om die oorkonde aan AfriForum se regspan te oorhandig sodat die appèlaansoek opgestel kan word teen die hof se besluit om Simpson borgtog te weier.
Dit is volgens AfriForum uiters kommerwekkend dat Simpson nog heeltyd in aanhouding is. Die organisasie meen die redes wat vir die weiering van borgtog aangevoer is, is onvoldoende. Die hof het onder meer aangevoer dat hy die borgtogaansoek van die hand wys vir Simpson se eie veiligheid.
AfriForum het vroeër aangedui dat hy Simpson met regshulp sal bystaan omdat dit lyk of hy ’n baie goeie verweer het en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging, mits hy goeie regshulp het tydens die verhoor en nie die slagoffer word van “nou al holruggeryde politieke en rasgebaseerde aantygings nie”.
AfriForum raak normaalweg nie by individuele sake betrokke nie, maar het ’n uitsondering vir Simpson se saak gemaak omdat daar volgens die organisasie groter kwessies ter sprake is wat nie net die beskuldigde raak nie, maar die breër gemeenskap.
Mnr. Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, sê in die verklaring boere ervaar daagliks talle probleme soos onwettige oortreders op hul grond, onwettige weiding, grondgrype en plaasaanvalle. “Politici wat gereeld uitsprake maak teen boere en onteiening sonder vergoeding aanmoedig, skep ’n gespanne atmosfeer in verskeie landelike gebiede.”