Die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, gaan die beweerde uitermatige besteding aan hotelverblyf deur me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, ondersoek.
Joemat-Pettersson se verblyfpatroon in hotelle wat R1,6 miljoen beloop het, het in ’n parlementêre vraag uitgekom.
Sy sê ’n amptenaar in haar departement het verkeerde inligting oor dié verblyf aan die Parlement verskaf. Van die inskrywings vir hotelverblyf in Kaapstad was glo vir die huur van konferensielokale waar verversings ook bedien is.
Die betrokke amptenaar en ander wat vir die chaos verantwoordelik was, is nie meer in diens van die departement nie, het sy op ’n mediakonferensie gesê.
R420 000 se rekening
Oor haar duur verblyf in Johannesburg by Pure Toys One BK van R420 000 vir 28 dae tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi, het sy gesê sy sou nooit kon dink dat haar departement so ’n bedrag by ’n gastehuis sal bestee nie.
Sy het aangevoer dat sy juis gevra het vir verblyf by ’n gastehuis omdat hotelle duurder is.
Sy het verder verduidelik dat sy en haar twee seuns selfs een aand in haar motor moes slaap toe hulle by die gastehuis uitgesit is. Haar tasse was glo gepak en in die pakkamer gebêre toe sy een aand daar aankom omdat ander mense hul intrek daar moes neem.
8 November 2011