
Mnr. Wandile Sihlobo, hooflandbou-ekonoom van Agbiz, het op die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se konferensie gesê die stygende inflasiekoers is ’n ernstige bedreiging wat ’n mens tot kommer stem.
“Die koste van kapitaal is iets waaroor ons almal besorg moet wees. Plaasskuld in Suid-Afrika lê net onder R200 miljard. As die rentekoers gaan aanhou om so aggressief te styg as op die oomblik, moet ons baie bekommerd wees.”
Namate die ekonomiese groei verlangsaam, sal die vraag na duur landbouprodukte ook afneem. Stygende inflasie bring mee dat mense se geld eerder na uitgawes herlei word.
Volgens Sihlobo het die landbou ’n sterk behoefte aan markontwikkeling, veral om hoëwaardelandbouprodukte uit te voer wat Suid-Afrikaners nie noodwendig op die oomblik kan bekostig nie. Hy het verwys na Japan, Indië, China, Saoedi-Arabië en Bangladesj as belangrike markte vir die plaaslike landboubedryf.
“Ons voer sowat 51% (oftewel $12 miljard) uit van wat ons in die landbou produseer. Dis ongeveer 8% van Suid-Afrika se algehele uitvoer, wat waardevol en gunstig vir werkskepping is. Ons het egter markte nodig waarheen ons produkte kan stuur, anders gaan die plaaslike mark versadig en winsgewendheid ’n probleem raak.”
Sihlobo sê hoewel Afrika ’n belangrike mark is, moet uitvoer verder strek as die vasteland, vir wie ekonomiese vooruitsigte tans droewig is.
“Sowat 40% van ons uitvoer gaan na die res van die vasteland, maar 89% daarvan bly binne die lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Die res is hier en daar, na plekke soos Nigerië, maar die logistieke koste is hoog om dit daar te kry.”
Landbou kan ook sukkel
Sihlobo voorspel dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met meer as 2% kan groei, maar die daaropvolgende twee tot drie jaar sal dit minder as 2% wees.
“Dan sal ons ’n toename in werkloosheid sien, of dit sal by vlakke bo 35% bly, en daar kan maatskaplik-ekonomiese gevolge soos stakings en politieke onrus wees.”
Sihlobo het gewaarsku dat die landbou, selfs al presteer dit goed, nie die probleme sal vryspring nie. “Daar is nie ’n boom wat in die woestyn kan floreer nie. Ons bedryf kan ook net só lank goed presteer in sulke moeilike omstandighede.”
Sihlobo reken landbougroei kan vanjaar met 3% tot 5% krimp, hoewel hy nie té bekommerd is daaroor nie, want dit word deur basiseffekte veroorsaak.
Weervooruitsigte
Hy het verwys na die groot waarskynlikheid dat nóg ’n La Niña-weervoorskynsel Suid-Afrika kan tref in die komende produksieseisoen.
“Ons behoort bekommerd te wees oor die intensiteit daarvan. Dit kan meer intens wees as vanjaar, waartydens ons reeds swaar reën gekry het.”
Dit moet gevaarligte by die veebedryf laat flikker wat veesiektes en voerproduksie betref. Hy glo die graanbedryf sal weer sowat 2,3 miljoen ha kan beplant, maar daar is vraagtekens oor die grootte en gehalte van die oes as die weer ’n nadelige invloed het.