Die wêreld word deur ’n ernstige tekort aan eetbare olies in die gesig gestaar ná opeenvolgende swak produksiejare vanweë weerstoestande, produksieprobleme met palm-olie en nou ook die oorlog in Oekraïne.
Mnr. Thomas Mielke, uitvoerende hoof van Oil World en ISTA Mielke, ’n markontledingsdiens vir olies en vette, het op ’n webinaar van die Willowton-groep gesê pryse het die hoogte in geskiet en talle verbruikers wêreldwyd kan nie meer olie bekostig nie.
Die prys van sonneblomolie in Europa het binne drie weke verdubbel tot $3 000/t (R45 000/t). Palmolie se prys staan op $2 000/t (R30 200/t), wat drie keer hoër as die langtermyngemiddelde is. Hy sê veral in Europa sal daar binnekort tekorte ontstaan weens gebrekkige uitvoer vanaf die Swartsee-gebied.