
Daar is reeds duidelike aanduidings dat die ANC nie die vereiste meerderheid van twee derdes sal kry om artikel 25 van die Grondwet te wysig wanneer oor die 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet gestem word nie. Die nasionale vergadering sal moontlik in die eerste week van November ná die munisipale verkiesing die wetgewing verder hanteer.
Vanaf 13 September tot 1 November sal parlementslede besig wees met verkiesingswerk in hul kiesafdelings.
Die EFF het in die laaste komiteevergadering van die ad hoc-komitee wat wetgewing moet opstel vir nulvergoeding by onteiening van grond, dit duidelik gemaak dat hy gekant is teen die “onsinnige” wysigings wat die ANC in die komitee aanvaar het. Die EFF en die ANC kon nie eenstemmigheid bereik oor die totale weglating van vergoeding in die wysigingswetgewing nie en ook nie dat die staat die voog van alle grond in Suid-Afrika moet wees nie.
EFF gekant
Mnr. Floyd Shivambu, EFF-LP, het op die vergadering gesê die komiteeverslag moet die EFF se siening weergee dat hy nie saamstem met die wysigingswetgewing nie en in sy huidige vorm daarteen gekant is. Die EFF was nie in ’n paar van die laaste vergaderings nie en dus is daar geen rekord dat hy gekant is teen die wysigingswetgewing toe vir die laaste keer oor die klousules van die wetgewing gestem is nie.
Shivambu het gesê die EFF het verskeie kere in ander vergaderings sy teenkanting teen die huidige bewoording aangedui en alternatiewe voorgestel. Hy het daarop aangedring dat dit só in die finale komiteeverslag aangedui moet word. Die komitee het daarteen besluit.
Shivambu het gesê dat die EFF fundamenteel gekant is teen die “uitverkoop”-posisie van die ANC en alle ander partye wat aan die proses deelgeneem het. Hy het bygevoeg dat die EFF weet hoe die grondkwessie hanteer moet word en dat die EFF suksesvol daarmee sal wees.
Die DA en die VF Plus het aangedui dat hulle hul menings oor die finale verslag voorbehou en eers met hul koukusse wil konsulteer.
Die programkomitee van die nasionale vergadering het op ’n spesiale sitting besluit dat die verslag op Vrydag 10 September aan die nasionale vergadering voorgelê sal word, wat dus beteken dat die debat en stemmery oor die wysigingswetgewing eers in November sal kan geskied.
Wysigings
Die voorgestelde wysigings is dat wanneer grond en enige ander verbetering daarop onteien word vir die doel van grondhervorming, die vergoedingsbedrag betaalbaar nul rand mag wees; dat nasionale wetgewing die omstandighede moet bepaal waar die vergoedingsbedrag nul rand is; die invoeging van ’n nuwe subafdeling 4A wat aandui dat die staat grond, wat die gesamentlike erfenis van alle landsburgers is, moet beskerm; en ook die invoeging van subafdeling 5 dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet tref om dit vir die staat moontlik te maak “om voogskap van sekere grond” te kry sodat landsburgers toegang tot grond op gelyke grondslag kan kry.