
Die syfers het teen 13 Maart gedui op ’n onderverhaling van sowat 30c/liter op petrol en ’n oorverhaling van 15c/liter op diesel, sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB.
Hy sê die ruolieprys is tans betreklik stabiel en as brandstofpryse net van die ruolieprys afgehang het, kon dit tot gevolg kon gehad het dat dieselpryse volgende maand met sowat 50c/liter daal, terwyl petrolpryse met sowat 10c/liter kon styg.
Die wisselkoers is egter volgens hom die vark in die feeverhaal. As gevolg van die wisselvalligheid van die wisselkoers, wat die afgelope paar dae verswak het, sal dit ’n groter impak op brandstofpryse hê en die verligting op dieselpryse tot sowat 15c/liter beperk. Petrolpryse sal waarskynlik met sowat 30c/liter styg.
“Indien die wisselkoers versterk tot die einde van die maand, kan beter nuus verwag word. As die huidige neiging egter voortduur en die wisselkoers aanhou verswak, sal petrolpryse styg. Gelukkig vir produsente is effense verligting met dieselpryse ’n moontlikheid.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.