
Kamele, perde en donkies wat in Egipte se toerismebedryf gebruik word, vrek van die honger weens die politieke onluste. Luidens ’n verklaring van Four Paws Internasionaal, ’n liefdadigheidsorganisasie, vrek baie van dié diere tans omdat hul eienaars hulle nie kan voer nie. Kyk hier na 'n fotogalery van die hulp wat verleen word.
Veral diere wat gebruik word om toeriste in die omgewing van die piramides naby Luxor en Aswan te vervoer, word hard deur hongersnood en siektes getref – en hul eienaars kan hulle nie help nie omdat hulle nie ’n inkomste het nie en nie die nodige hulpmiddele kan bekostig nie.
2000 diere
Dr. Amir Khahil, die organisasie se verteenwoordiger in Kaïro, sê honderde karkasse lê in die stad se strate rond waar die diere bloot deur radelose eienaars agtergelaat is: “Volgens ons jongste opname word 800 perde, 1 000 kamele en ’n onbekende aantal donkies deur die situasie geraak.” Dié diere het ’n ernstige behoefte aan voer, mediese sorg en medisyne.
Baie van die diere het tydens die onluste beserings opgedoen en het nog geen mediese behandeling ontvang nie. Ander se saals is nie noodwendig vir die spesifieke dier ontwerp nie, derhalwe beseer dit hul vel en ontwikkel hulle velsiektes.
400 diere gevoer
Four Paws het ’n hulpstasie in Kaïro opgerig, en op die eerste dag wat dié stasie beman is, is 81 kamele en 14 perde behandel. Sowat 12 500 kg voer is ook al uitgedeel, wat beteken dat 400 diere ’n week lank genoeg sal hê om te eet.
Khahil sê die eienaars sien egter nie die groter prentjie van ’n groot ondersteuningspoging in nie, derhalwe moet die voer noukeurig versprei word om seker te maak die maksimum aantal diere voordeel daaruit geniet.
Khahil sê die reddingspoging sal vir nog ’n paar weke voortgaan, en met die groot aantal jong vrywilligers wat reeds by hulle aangesluit het, hoop hulle dat dit oor ’n paar maande kan strek.
4 Maart 2011