
Volgens die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het vasbeslote pogings deur lug- en grondbrandbestrydingspanne brandskade aan wingerde, geboue en ander eiendom voorkom.
Luidens ’n verklaring deur die munisipaliteit het waterbomhelikopters van Henley Air saam met grondspanne van die munisipaliteit en sy gekontrakteerde vennote gewerk om die eiendom gister te beveilig. Die helikopters het tot laaste lig gewerk en die grondspanne het deurnag met hul eie pogings voortgegaan.
“Vroegoggend het ligte mis verligting van die hitte gebring, maar dit het nie die brandbestryding aangehelp nie. In hierdie stadium is die brandlyn op die linkerflank in die kloof in die rigting van die ou Tolhuis en die regterflank, wat aangehits word deur ou, digte plantegroei, teen die kranse van die berg.”
Terwyl grondbrandbestrydingspanne voortgaan met hul pogings om dié brand onder beheer te bring, sal die lugondersteuning hervat sodra dit veilig is om te vlieg.
Brandbestryders hoop die koel weer en min wind wat vandag vir daardie gebied voorspel word, sal help dat die brandbestryders met sewe brandbestrydingsvoertuie en twee waterbomhelikopters die brand vinnig onder beheer sal kry.
* Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste het gistermiddag om 16:30 bevestig dat die brand suksesvol ingekamp is.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.