
Hoewel die ANC nie daarin kon slaag om die Grondwet te wysig ten einde voorsiening vir onteiening met nulvergoeding voorsiening te maak nie, is dit volgens die georganiseerde landbou nie die einde van die stryd om eiendomsreg nie.
Vrystaat Landbou sê die wysigingswetgewing is nie aanvaar nie danksy die duisende landsburgers wat petisies teen die wysiging van die Grondwet gesteun het.
“Die geveg vir die behoud en uitbreiding van individuele eiendomsreg duur egter voort. Die volgende kwessie is om die onteieningswetsontwerp in sy huidige vorm ook te stuit. As die wetsontwerp vroeg volgende jaar voor die parlement dien, is net ’n volstrekte meerderheid nodig.”
TLU SA is dankbaar dat die voorgestelde wysiging aan artikel 25 van Suid-Afrika se Grondwet ten opsigte van die onteiening van eiendom met nulvergoeding te verander, nie aanvaar is nie.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê ondanks gister se uitslag is dit nie die einde van onteiening sonder vergoeding nie. “Die proses is beslis nie verby nie. Daar is politici wat vasbeslote is om dit op een of ander manier deur te voer. TLU SA is natuurlik dankbaar vir almal wat daarteen gestem het, maar ons kan nie nou terugsit en van die aangeleentheid vergeet nie.”
Hy sê onteiening sonder vergoeding bly ’n gevaar vir Suid-Afrika se ekonomie, want selfs al word net daaroor gepraat, veroorsaak dit wantroue en gevolglike skade. “Beleggers raak al hoe versigtiger om te belê en Suid-Afrika se ekonomie het dié vaste beleggings broodnodig. Hoe gouer die ANC van die standpunt afsien, hoe beter.
“Ek bedank baie spesifiek die ad hoc-groep vir die beskerming van private besitreg en al 53 organisasies wat daarby ingeskakel en hul rol gespeel het om die ware feite op die tafel te lê. Ons is wel baie realisties oor die pad vorentoe. Die saak is nie afgehandel nie en ons sal bedag wees op pogings om ons ekonomie so omver te werp.
“Die onteieningswet is ook nog in proses en daarvoor is net volstrekte meerderheid nodig. Daar sal beslis weer pogings wees om dit deur te voer. Die gevaarligte flikker dus steeds.”
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die organisasie vir familieboerderye Saai, meen dat die ANC sedert sy omstrede resolusie van Desember 2017, waarin onteiening sonder vergoeding voorgestel word, onherstelbare skade aan die reputasie van Suid-Afrika as beleggingsbestemming en die ekonomie van die land, asook instellings soos die Land Bank, landboufinansiering en die lewensvatbaarheid van boere berokken het.
“Die ANC het willens en wetens die ekonomie gesaboteer deur die oneerlike wyse waarop hy in die openbare konsultasieproses die geskrewe insette, hoofsaaklik van beleggers, werkgewers en sake-ondernemings, weggegooi het en die bedrogspul met die ekonomiese lewensvatbaarheidstudie wat deur ’n regsproses van Sakeliga blootgelê is.
“Vier jaar van verneukery en ekonomiese terreur rondom die ANC se strewe om Suid-Afrika op dieselfde trajek as Zimbabwe en Venezuela te plaas, het soveel onsekerheid en wantroue geskep dat dit veel meer as die regering se beste pogings sal vat om weer ’n beleidsomgewing te skep waarin groei en stabiliteit kan gedy. Dit is juis in die herhaaldelike verwerping van dit waarvoor die ANC staan, beide in verkiesings en in die wetgewer, dat daar nuwe hoop vir Suid-Afrika verskyn.”
Titelaktes belangrik
Mnr. Jaco Minnaar, president van Agri SA, sê hulle verwelkom die erkenning van die belangrikheid van titelaktes tydens die debat, asook die voorneme om begunstigdes deel te maak van die ekonomie, want titelaktes is ’n uiters doeltreffende manier om ware en volhoubare ekonomiese bemagtiging van begunstigdes te verseker.
“Die uitkoms van die debat rakende die wysiging van artikel 25 in die parlement vandag is gunstig vir die toekoms van Suid-Afrika, en sal daartoe bydra om vertroue in die ekonomie te begin herstel.”
Mnr. Willem de Chavonnes Vugt, voorsitter van Agri SA se afdeling vir grondsake, sê dit is belangrik dat daar nou binne die bestaande beleids- en wetgewingsraamwerk vordering gemaak moet word met daadwerklike en volhoubare planne om grondhervorming te laat slaag. “Daar moet ook gekyk word na werkbare aansporings vir grondhervorming. Die vennootskapsbenadering behoort sterk ondersteun te word.”
Dr. Annelie Lotriet, DA-LP, sê wat Suid-Afrika nodig het, is ’n pragmatiese en rasionele benadering wat binne die grense van huidige grondwetlike bepalings oor grondhervorming sal funksioneer. “Die nasionalisering van grond en die uitsluiting van die howe om grondonteieningsake te besleg, soos voorgestel deur die ANC en die EFF, sou die oppergesag van die reg ondermyn en Suid-Afrika tot ’n ekonomiese dorsland afgetakel het.”
Volgens dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep in die parlement, sê die regering moet homself nou eerlik afvra wat die beste internasionale praktyk is wat eiendomsreg aanbetref, aangesien suksesvolle lande eiendomsreg en die oppergesag van die reg waarborg.
AfriForum meen die stryd om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm is nie verby nie en dat hierdie regte weer in die toekoms bedreig kan word. “Daarom herbevestig die organisasie sy toewyding om as burgerregtewaghond op te tree teen sulke skendende beleide en om dit ten sterkste teen te staan as dit weer oorweeg word.”
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê dit is nie bestaande beleide wat misluk het om grondhervorming te weeg te bring nie, maar eerder ’n gebrek aan politieke wil, swak toepassing, korrupsie en onvoldoende hulpbronne.
“Die voorstel van onteiening sonder vergoeding was ’n ware bedreiging vir die eiendomsregte van diegene wat voorheen minderbevoorreg was en steeds hard werk om hul eiendom te behou. Onteiening sonder vergoeding sou nie die stadige pas waarteen grondhervorming plaasvind, opgelos het of voorheen minderbevoorregdes se lewensbestaan verbeter het nie.
“Wat ons nou nodig het, is ’n pragmatiese en rasionele benadering binne die bestaande grondwetlike voorskrifte op grondherverdeling.”