Dít was die boodskap van mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU), op die jaarkongres van die Lewendehawe-produsente-organisasie (LPO) in Windhoek.
Hy het die Namibiese grondberaad saam met ’n klein afvaardiging van die NLU by gewoon, waar hulle ’n voorlegging “sonder intimidasie” kon doen. Die vyf dae lange beraad is deur sowat 800 mense, onder wie mnr. Hage Geingob, Namibiese president, en ander senior regeringslui bygewoon.
Oudpresidente Sam Nujoma en Hifikepunye Pohamba se voorlegging was volgens Van der Merwe “nogal ’n skrikwekkende ervaring weens hul radikale voorstelle”, soos dat ’n referendum gehou en die klousule in die grondwet wat eiendomsreg beskerm, geskrap moet word. Die regering het egter vinnig gereageer en bevestig dat die betrokke klousule nie verander kan word nie.