
Kan die hofgeding wat Agri Oos-Kaap teen die Ndlambe Munisipaliteit (Alexandria) in die Grahamstadse Hooggeregshof gewen het, ’n einde bring aan die onbeheerde instroming van diere in residensiële gebiede?
Agri Oos-Kaap was suksesvol in sy aansoek dat prosedures afgedwing moet word met betrekking tot die aanhou van diere op meentgrond en ander oop ruimtes binne die jurisdiksie van die betrokke munisipaliteit. In sy betoog het Agri Oos-Kaap aangevoer dat die onbeheerde instroming van diere in residensiële gebiede en meentgrond die oordrag van dieresiektes na naburige plase verhoog en ook ’n gevaar vir motoriste en die beskadiging van private eiendom inhou.
Vee op meentgrond moet teen dieresiektes behandel wees
Regter Tilana Macebe het onder meer in haar uitspraak beveel dat alle diere op die meentgrond van die Ndlambe munisipaliteit brand- en of tatoeëermerke kry, asook 'n oorplaatjie, wat na die eienaar teruggespoor kan word. Die aanhou van diere moet ook aan die vasgestelde departementele drakragnorme voldoen. Alle vee op meentgrond moet teen dieresiektes behandel word terwyl heinings in goeie toestand moet wees. Prosedures moet ook in werking gestel word sodat die publiek die aanwesigheid van rondloperdiere maklik kan aanmeld.
Mnr. Douglas Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, het na afloop van die uitspraak gesê dat sy vereniging nie gekant is teen die aanhou van diere deur munisipale inwoners nie aangesien dit om ekonomiese en kulturele redes belangrik vir hulle is. Die diere moet egter op so ’n wyse aangehou word dat dit nie ’n oorlas of gevaar vir ander inwoners skep nie.
Die uitspraak en voorstelle van Agri Oos-Kaap is aan al sy takke gestuur om as riglyn te dien vir toekomstige onderhandelinge met hulle onderskeie munisipaliteite.