
Verbruikers se klagtes oor die beskikbaarheid van tamaties en ander groentesoorte, asook die skielike prysstygings van die produkte, het onlangs lugtyd op die geselsradiostasie Radio 702 geniet toe die joernalis Mandy Wiener met mnr. Clive Garrett, ZZ2 se bemarkingsbestuurder, gesels het oor die skaarsheid en gevolglike prysstygings van tamaties.
Garrett het verduidelik hoewel tamatieproduksie baie water verg, hou die plante nie van reën nie. Produksie in plekke soos Polokwane en Mooketsi het dus ’n knou gekry toe dit in Januarie en Februarie meer gereën het in dié gebiede as wat dit gewoonlik in ’n hele jaar reën.
Die nat weer het tot ’n toename in plae gelei en daar is groot skade aan plante en vrugte aangerig.
Dinge lyk egter reeds beter en oor die volgende twee tot drie weke sal die situasie na normaal terugkeer, sê Garrett. Produksie het nou aangeskuif na die warmer dele van die land, soos agter die Soutpansberg in die Waterpoort- en Musina-omgewing. Dié gebiede is nie so erg deur die reën beïnvloed nie en die reënval het oor die afgelope maand skerp afgeneem.
Garrett sê die meeste blaargroentes asook broccoli en blomkool is waarskynlik deur die nat toestande geraak. Selfs aartappel- en wortelproduksie is op plekke deur die oorvloedige reën beïnvloed.