Julius Malema moet R50 000 betaal aan ’n traumafonds wat slagoffers van plaasmoorde bystaan. Dít is een van die eise wat AfriForum en die TLU SA in die hofsaak teen die leier van die ANC-Jeugliga stel. Die organisasies eis ook dat Malema die koste van die hofsaak moet dra.
Die verhoor, oor die sing van die lied “Skiet die boer”, het Maandag (11 April), in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg begin. Die hofsitting vind plaas as deel van die Gelykheidshof.
Luidens ’n berig op News24.com het Malema onder streng bewaking by die hof opgedaag. Na bewering is 16 regsverteenwoordigers betrokke by dié saak wat verlede jaar aanhangig gemaak is ná Malema die lied op verskeie openbare saamtrekke gesing het.
Onvoorwaardelike verskoning
AfriForum en die TLU SA voer aan dat dié lied en uitsprake daaroor as haatspraak verklaar moet word, en hulle hoop dat Malema beveel sal word om die individue en groepe wat deur dié lied en uitsprake geraak is, onvoorwaardelik om verskoning te vra.
Verder versoek hulle ook die hof om ’n interdik teen Malema in te stel wat hom verbied om iets te doen of sê wat onenigheid tussen rasse kan veroorsaak.
Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans is as ’n vriend van die hof by die saak toegelaat.
Bron: News24.com
11 April 2011