
“Ek lê dit heeltemal voor die deur van die staat.” Mnr. Dawie Roodt, senior ekonoom van die Efficiënt-groep, sê die swak vertoning van die rand en gevolglik hoër brandstofpryse wat hoër voedselpryse en ander koste tot gevolg sal hê, is te wyte aan die staat se onvermoë om leierskap en bestuur in die land toe te pas.
Weens die stakings wat onder meer die mynbou- en vervoersektore die afgelope paar weke teister, het die rand teenoor die Amerikaanse dollar verswak tot R8,99. Die rand verhandel sedert die tweede week van Oktober rondom R8,60 teenoor die dollar.
Verhoging
Roodt, wat op 1 Oktober voorspel het dat brandstofpryse in November met tussen 20c en 30c per liter kon daal, sê weens die verswakking van die rand is ’n styging van tussen 10c en 15c per liter brandstof nou op die kaarte. “Die bestuur van die land het ons van ’n petrolprysverlaging na ’n verhoging geneem in ’n kwessie van weke.”
Hy sê die swakker rand gaan sonder twyfel ’n styging, van sowat 25c per liter petrol tot gevolg hê. Die daling in die internasionale olieprys laat dié styging egter met sowat 10c per liter daal.
Die rand se verswakking is ’n gevolg van “geld wat die land verlaat” weens die onrus rondom stakings en die gebeure by myne, soos wat by Marikana in Noordwes die geval was, verduidelik Roodt. “Ek wil ’n waarskuwing rig aan die staat, dat as behoorlike leierskap en bestuur nie dringend toegepas word nie, die rand enige plek heen kan beweeg, wat die ekonomie ongelooflik sal benadeel!”