
Volgens weermodelle kan die verwagte El Niño-weerverskynsel teen Januarie “volwassenheid” bereik, sê mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou. Reënvaltoestande was tot dusver in die algemeen swakker as wat voorspellings aangedui het, hoewel taamlik goeie neerslae al oor dele van Mpumalanga, die Oos- en Noord-Vrystaat, Gauteng en die oostelike dele van Noordwes voorgekom het.
“Dié reën was op ’n deurslaggewende tydstip vir aanplantings in veral die Oos-Vrystaat en Mpumalanga, waar die planttyd baie naby aan verstreke is.”
Oor die res van die land het nog baie min of geen reën voorgekom, met die uitsondering van die Suid-Kaap en die Tuinroete.
Dit was veral die hittegolf en baie sterk wind in November wat landboutoestande in groot dele van Limpopo, die Vrystaat, Noordwes, die Noord-Kaap, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap baie laat verswak het. Damvlakke het nou ook vinnig begin daal, terwyl weidingstoestande in veral die sentrale tot westelike en suidwestlike dele van die land baie verswak het of uiters swak bly ná opeenvolgende jare van swak reënval.
“Die meeste van die provinsies in die somerreënstreek is reeds vir drie jaar tot sewe jaar midde-in ’n siklus van ondergemiddelde reënval, hoewel daar sporadies korter tydperke met goeie reënval was, soos van Februarie tot Mei vanjaar,” sê Van den Berg.
“Die kumulatiewe uitwerking van min reën oor ’n lang tydperk maak die huidige gebrek aan reën nog erger wat landboutoestande betref.”
Reënvalvooruitsigte
Gemiddelde reënval word tot einde Desember vir die oostelike helfte van die somerreënstreek voorspel, terwyl ondergemiddelde reënval oor die westelike en suidelike dele verwag word.
Gevaarligte flikker vir die res van die seisoen, veral in die westelike dele van die land en Namibië, hoewel graanproduksie in die sentrale en oostelike dele van Februarie tot Maart ook beïnvloed kan word. Volgens Van den Berg is daar twee redes daarvoor. Die El Niño-stelsel begin nou eers behoorlik ontwikkel, wat beteken die uitwerking daarvan sal eers later in die seisoen voorkom. Tweedens raak dié weerstelsel gewoonlik die westelike dele van Suid-Afrika meer.
“Daar moet onthou word dat ongeveer 70% van El Niño-jare met ondergemiddelde reënval gepaardgegaan het. Dit is dus nie altyd die geval nie, maar dit verhoog die risiko vir min reën,” aldus Van den Berg.
“Beplanning nou eerder vir ‘n droër seisoen. Indien dit beter reën, moet dit as ’n bonus beskou word.”
’n El Niño-seisoen?
Die Australiese Buro vir Meteorologie sê die Enso- (El Niño Suidelike Ossillasie) indeks dui steeds aan dat die kans op die ontwikkeling van ’n El Niño-stelsel teen die einde van die jaar op 70% staan.
Volgens Van den Berg kan die seisoen nog nie as ’n El Nio-seisoen geklassifiseer word nie, aangesien seevlaktemperature vier tot vyf maande lank meer as 0,5 °C warmer as die gemiddelde moet wees. “See-oppervlaktemperature in die sentrale Stille Oseaan is nou vir die vierde agtereenvolgende week warmer as 0,5 °C warmer as normaal, wat aandui dat dit nou na ’n El Niño neig.”
Die Indiese Oseaan-dipoolindeks is tans in ’n positiewe fase, wat die kans op siklone nader aan die Afrika-kuslyn vergroot. Tans is daar nie enige aanduidings van siklone of sterk laagdrukstelsels wat gaan ontwikkel in hierdie gebied tot minstens die tweede week van Desember nie.
“Dit kan sorg dat die trog van laagdruk wat tans besig is oor die sentrale tot westelike dele om te ontwikkel, nie te veel mededinging vir tropiese vog gaan ervaar nie. Dit kan moontlik beter reënvaltoestande vroeg in Desember veroorsaak,” sê Van den Berg.
Volgens Van den Berg word die interpretasie van korttermynvoorspellings baie bemoeilik, omdat voorspellings selfs binne ure baie kan varieer.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.