
Kanse is steeds aan die verskraal dat El Niño binne die volgende maande gaan herleef, wys die jongste klimaatvooruitskou-modelle.
Teen middel Julie was see-oppervlaktemperature in die tropiese deel van die Stille Oseaan wat op die stand van El Niño of La Niña dui, in 'n neutrale fase. Seetemperature was wel aan die oostekant naby die drempel aan 'n amptelike El Niño, maar atmosferiese toestande was daar was ook steeds neutraal, sê die Internasionale Instituut vir Klimaat en Gemeenskap (IRI).
Neutraal
Dié voorspellers se gevolgtrekking is dat die neutrale stand van sake deur hul herfs (Suid-Afrika se lente) behoort voort te duur. Die kans op ontwikkeling van 'n amptelike El Niño word op tussen 35% en 40% gestel.
Die reënval-voorspelling vir Suid-Afrika se laat winter (van Julie tot Augustus) is nog onseker, veral oor die winterreënvalgebied, sê die SA Weerdiens in sy jongste seisoensvooruitskouing.
Daar is egter wel 'n aanduiding van bogemiddelde reën in die vroeë lente (van Augustus tot Oktober) in die verre westelike dele van die land. Dié diens beaam dat die kans op 'n El Niño-terugkeer aan die afneem is.