Een uit elke drie boere kan moontlik in die volgende 20 jaar uit die Suid-Afrikaanse landbou tree, sê mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa Agribesigheid.
Tydens ‘n mediafunksie in Johannesburg het Janovsky gesê om as ‘n boer jou bestaan te probeer maak, is ‘n baie edel bestaan, “want ‘n boer moet deesdae ‘n wetenskaplike wees, maar ook ‘n finansiële bestuurder en by dit alles ‘n goeie pa. Dit word boonop moeiliker en moeiliker vir kleiner boere om te kan oorleef.”
Mark
Ten opsigte van markpryse en die invloed wat verskeie faktore op markte het, sê Janovsky dit moet nooit uit die oog verloor word dat ‘n mark sterker is as een mens of as ‘n land.
Janovsky verwag dat mielie-, koring-, sojaboon- en sonneblompryse in die komende jaar sywaarts gaan beweeg. Weens ‘n meer gunstige mielieprys voorspel hy dat meer mielies volgende jaar geplant sal word.
Dít sal tot ‘n prysstyging in groentepryse lei, want baie boere wat vroeër op mielies gefokus het, het weens die swak pryse na die groentebedryf oorbeweeg.
Wat die suiwelbedryf betref verwag Janovsky dat die pryse wat onlangs gestyg het, volgende jaar sywaarts kan beweeg. “Dit mag dalk ‘n bietjie optimisties wees, veral weens die groot ooraanbod van melk wat tans wêreldwyd bestaan.”
Droewig
Volgens Janovsky bevind die volstruis- en wynbedryf hulleself tans in ‘n droewige situasie. Die volstruisbedryf se benaderde situasie het weens die uitbreking van Avian Influenza ontstaan. Sou verdere toetse geen positiewe resultate oplewer nie, sal die bedryf sy uitvoerbedrywighede hopelik in Maart 2012 kan hervat.
Die wynbedryf is volgens Janovsky ook onder baie druk, veral dié wynboere wat hulself in Stellenbosch en die Paarl bevind. Een van die redes vir dié druk is die feit dat sommige plase nie groot genoeg is nie. Verder word die stadige aanwending en implementering van nuwe tegnologie in die bedryf ook as ‘n rede gegee.
5 Desember 2011