
’n Nuwe, hernubare energiekonsortium, wat geleenthede vir inkomste vir inwoners in landelike gebiede inhou, is Donderdag (24 Maart) in Johannesburg bekend gestel. Die konsortium, waarvan Mainstream Renewable Power Onshore en Suid-Afrika die vader is, het verskeie plaaslike maatskappye op die raad – wat AsgiSA Oos-Kaap insluit.
Mnr. Turbin Anderson, die hoof uitvoerende beampte van Mainstream Onshore, sê met dié konsortium wil hulle nie net hernubare energie produseer nie, maar ook ’n geleentheid vir ’n ekstra inkomste vir boere en inwoners in landelike gebiede.
“Ons werk tans saam met veral AsgiSA in die Oos-Kaap om boere, veral opkomende boere, te betrek by plaaslike projekte wat ’n ekstra inkomste in landelike gebiede skep,” aldus Anderson.
Verhoogde produksie
Mnr. Davin Chown, die besturende direkteur van Mainstream Suid-Afrika, sê een van hul doelwitte is om verhoogde produksie van landbouprodukte vir die produksie vir hernubare energie te ondersteun. Hulle wil ook fokus op verlaagde watergebruik vir kragproduksie.
“Die maatskappye het ’n visie om ’n nuwe era vir energie in Suid-Afrika te ontwikkel. Daar wag nie ’n blink toekoms op Suid-Afrika as ons voortgaan op die huidige pad met die verbruik van fossiel-gefokusde brandstowwe nie,” meen Devon.
“Daar was baie kritici en skeptisisme oor of Suid-Afrika die Wêreldbeker-sokkertoernooi suksesvol sou kon aanbied, en ek dink dieselfde gaan gebeur wat hernubare energie betref,” sê Chown.
24 Maart 2011