Suid-Afrika gaan oor die volgende ses jaar erge elektrisiteitstekorte ervaar omdat die kragkrisis nog nie opgelos is nie, sê mnr. Victor Martins, Eskom se bestuurder van elektrisiteitsdienste in die noordelike streek.
Hy sê hoewel die land nie tans onder beurtkrag gebuk gaan nie, is die land se kragaanbod steeds onder druk.
“In dié stadium het ons slegs ‘n kragreserwe van tussen 7% en 8%, terwyl ‘n aanvaarde reserwe 15% is. Tydens die krisis in 2008 toe die land onder beurtkrag en tekorte gebuk gegaan het, het die kragreserwe op 6% gestaan. So ons is baie naby aan dieselfde vlakke.”
Wêreldresessie het gehelp
Volgens Martin ervaar die land nie tans groot probleme nie weens die internasionale resessie en die stadige herstel van die land. “Dit beteken dat ons minder krag gebruik omdat die ekonomie nie volspoed hardloop nie.”
Martin waarsku dat verbruikers krag steeds spaarsamig moet gebruik, aangesien die nuwe beplande kragstasies en programme eers teen die einde van 2012 of selfs die begin van 2013 in werking sal tree.
“Suid-Afrika gebruik tot 65% meer krag as enige van die ander ontwikkelende lande in die wêreld,” vertel hy.
Kragbesparing
Eskom het as deel van hulle hantering van situasies waartydens beurtkrag sou nodig wees ‘n kragbesparingsprogram saamgestel. Volgens Martin bepaal dié program dat veral hulle groot kliënte tot 10% van hulle kragverbruik moet spaar. “Ons is tans in ‘n posisie waar ons ons groot kliënte hierop begin voorberei.”
Die kragvoorsiener se elektrisiteitsbesparings planne sluit ook moontlike voordele aan huishoudelike gebruikers in. Dié program staan bekend as die standaard of verbruiker program, waarvolgens ‘n verbruiker terugbetaal sal word vir hulle daaglikse kragbesparing tussen 06:00 en 22:00.
Verder word vergoeding ook beplan vir kraggebruikers wat omgewingsvriendelike kragbesparings metodes soos sonlig-energie waterverhittingsisteme gebruik.
29 September 2010