‘n Dodelike veesiekte wat vroeër vanjaar in Tanzanië uitgebreek het, kan sowat 50 miljoen skape en bokke in Suider-Afrika bedreig.
Luidens ‘n berig op die Food and Agricultual Organisation (FAO) se webtuiste bedreig die virus bokke en skape in 15 ander lande.
Die virus, pes van die herkouers, wat ook as peste des petits ruminants (PPR) bekend staan, word beskou as ‘n baie gevaarlike siekte en is gelykstaande aan runderpes onder beeste. Dit kan 100% vrektes onder kleinvee tot gevolg hê, en hoewel dit nie na mense oorgedra kan word nie, kan dit grootskaalse maatskaplike enekonomiese verliese vir gemeenskappe veroorsaak.
Die FAO het dié waarskuwing uitgestuur na ‘n onlangse krisisbesoek deur sy krisisbeheersentrum vir dieresiektes na Tanzanië.
Suider-Afrika?
Die afvaardiging het Tanzanië aangeraai om ‘n krisis-inentingsprogram in die noordelike dele van die land, waar die virus uitgebreek het, in te stel. Die siekte bedreig die oorlewing van Tanzanië se bevolking van 13,5 miljoen bokke en 3,5 miljoen skape.
Verdere inentings langs die grense met Malawi, Mosambiek en Zambië is ook voorgestel. Die FAO meen dit is belangrik dat dié lande op ‘n gereedheidsgrondslag vir die virus moet wees en pro-aktief moet optree.
Die siekte kom gewoonlik in die Midde-Ooste, Sentraal- en Suid-Asië voor, en het al in die westelike, oostelike en sentrale dele van Afrika voorgekom. Tot dusver is Suider-Afrika nog nie daardeur geraak nie. Die FAO sê hy is tans afhanklik van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om te help om die verspreiding van die siekte te bestry.
Lees gerus dr. Faffa Malan se antwoord op ‘n vraag oor die virus.
5 November 2010