
Dit was die waarskuwing van mnr. Warrick Pierce, hoofnavorser verbonde aan die energiesentrum van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR).
Pierce was een van die sprekers op ’n geleentheid waartydens die WNNR sy navorsing rakende die voortslepende energiekrisis en die gevolge wat dit onder meer vir watervoorsiening inhou, bekend gestel het.
“Die regering en Eskom was tot dusver deursigtig wat betref die elektrisiteitskrisis, maar ons sien uit eie ervaring hoe dit al hoe erger word. Dit is ’n versterkingsiklus waarvan beurtkrag ’n simptoom is. Die eintlike kwessie lê daarin dat die verskaffing van elektrisiteit nie betroubaar genoeg is om in die vraag te voorsien nie. Waar daar in die verlede ‘n kapasiteitsprobleem was, het dit gelei tot druk om die ligte tot elke prys aan te hou. Dit het die bestaande infrastruktuur onder druk geplaas, wat tot onvoldoende onderhoud gelei het, met gevolglike stygings in onderbrekings wat die opwekkingsvermoë ernstig knou.
“Dit is dus nie net onvoldoende onderhoud nie, maar ook infrastruktuur wat al hoe ouer word, wat probleme gee.”
Hy het gesê Eskom se beplande instandhouding het oor die jare konstant gebly op 10% van die opwekkingsvermoë, maar onbeplande onderbrekings by kragsentrales het gedurende 2021 skerp toegeneem.
Onbetroubaarheid bly knelpunt
Hoewel Eskom teoreties genoeg opwekkingsvermoë het met 44 000 MW teenoor die absolute spitstydvraag van 35 000 MW bly die onbetroubaarheid van die kragsentrales ‘n knelpunt. “Dit is soos om ’n huurmotoronderneming met tien voertuie te hê, maar net vyf van hulle kan op ’n gegewe tyd loop. Jy het dus nie tien voertuie vir die vraag nie, maar aansienlik minder.”
Hy het gesê die gaping wat deur steenkoolkragsentrales gelaat word, word tot ‘n klein mate deur alternatiewe energie gevul, maar dat dit nie genoeg is nie. “Ons het wel gesien dat die totale vraag na elektrisiteit oor die jare afgeneem het, maar die afname van elektrisiteitsverskaffing deur steenkool is baie hoër as die afname in aanvraag en is een van die hoofredes vir die krisis.”
Oor die vraag wanneer beurtkrag dan sal eindig, het Pierce gesê daar is twee faktore. “Jy kan nie ‘n vallende mes vang nie. Dus sal ons eers moet wag om te sien wanneer die energiebeskikbaarheidsfaktore stabiliseer nadat dit in Desember verlede jaar die eerste keer ooit tot onder 49% gedaal het. Dit beteken dat minder as die helfte van Eskom se opwekkingsvermoë gedurende daardie tyd beskikbaar was,” het Pierce gesê. Tweedens sal ’n hele paar duisend megawatt se opwekkingsvermoë aan die kragnetwerk gekoppel word wat jare kan duur.
Waterverspreiding verg ook elektrisiteit
Mnr. Odwa Badi, hoof- siviele ingenieur by die WNNR, gesê die hoë vlakke van beurtkrag eis ook sy tol op nasionale waterverskaffing. “Gemeenskappe lê oor die algemeen hoër as die hoofwaterbronne van die land en dus moet water gepomp word vir verspreiding. Met beurtkrag kan elektrisiteitstuwings hierdie pompe laat uitbrand, wat tot groot skade lei.”
Badi het ‘n voorbeeld genoem van ’n 50 kW-pompstasie wat uitgebrand het, en waarvan die skade R70 000 beloop het.
Die hidrouliese faktor, waar lug weens waterhamer pype laat lek, kan ook nie buite rekening gelaat word nie, terwyl voldoende elektriese kragtoevoer nodig is vir veiligheid rondom reservoirs en rioolaanlegte. “Laastens benodig die outomatiese instrumente wat watervlakke beheer en monitor, ook elektrisiteit om te verhinder dat reservoirs oorloop. Indien ons nie die nodige kragverskaffing kry nie, kan die reservoirs dan oorloop of nie die voldoende invloei bewerkstellig om reservoirs te hervul nie, met gevolglike waterprobleme.”
Onwettige koppelings en besproeiing
Badi het gesê onwettige koppelings en lekkasies speel ook ’n rol in die verlies van water. “Sowat 41% van ons water gaan verlore. Hiervan is 35% weens lekkasies. Dit verteenwoordig ’n verlies van 1 660 miljoen kubieke meter water, oftewel R9,9 miljard per jaar. Die bedrag is bereken op ’n koste van R6 per kubieke meter, maar die prys het intussen gestyg tot R8 tot R10 per kubieke meter.”
Oplossings waaraan die WNNR werk, is onder meer ’n toepassing om waterprobleme aan munisipaliteite te rapporteer en ’n program waardeur die WNNR boere bystaan om hul besproeiingspraktyke aan te pas. “Die landbou gebruik sowat 61% van die bruikbare water in die land, en hier kyk ons onder meer ook na besproeiingsoplossings vir verskillende gewasse om die beskikbare water doeltreffender aan te wend,” het Badi gesê.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.