
Ten spyte daarvan dat hoë kragpryse verbruikers hard tref en Eskom om nóg ’n verhoging aansoek gedoen het, maak die maatskappy ’n enorme wins.
Eskom het in sy afgelope boekjaar, vir die derde agtereenvolgende keer, ’n styging in sy wins aangeteken. Sy wins vir die boekjaar van Maart verlede jaar tot einde Maart vanjaar het op R13,2 miljard te staan gekom. Die maatskappy het in September verlede jaar R12,8 miljard verwag, ná ’n wins van R8,4 miljard vir die 2010/’11-boekjaar aangeteken is.
Volgens ’n mediaverklaring sal dié wins ten volle aangewend word om die maatskappy se beoogde uitbreidings te finansier en om sy skuld te betaal.
Ander maatskappy
Mnr. Brian Dames, hoof uitvoerende beampte, sê Eskom is tans nie die maatskappy wat hy twee jaar gelede was nie. “Ons het ’n strategie om Eskom in ’n hoëwerkverrigting-eenheid te verander en om dit te posisioneer om te groei. Hoewel ons nog nie daar is nie, het ons nou die boublokke om die maatskappy vorentoe te neem.”
Mnr. Malusi Gigaba, Minister vir Openbare Werke, sê hulle is opgewonde daaroor dat die finale fase van die oprigting van die Medupi-kragsentrale onderweg is. Dié kragsentrale sal na verwagting voor einde volgende jaar sy eerste krag aan die nasionale kragnetwerk lewer.
Eskom se koste het in die afgelope boekjaar met sowat 29% gestyg, met primêre energie per kilowatt-uur wat die hoofdrywer was. Die koste om steenkool te brand, het met 20,8% gestyg, terwyl Eskom sowat R3,3 miljard moes bestee om krag van ander bronne aan te koop.
Nuwe verhogings aansoek
Mnr. Dawie Maree, kommersiële bestuurder van Agri SA, sê die maatskappy het aangedui dat hy oor die volgende vyf jaar vir kragprysstygings van tussen 14% en 15% per jaar sal aansoek doen. Die kragvoorsiener het vroeër aan die media gesê dat dié styging uiteindelik op ’n 50%-verhoging oor die tydperk te staan kan kom.
Hy sê hulle wag intussen op die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om ’n voorstel oor goedkoper tariewe vir die landbou aan die Kabinet voor te lê. “Die verslag is verlede jaar in Januarie reeds aan die departement oorhandig, en ons roer dit gereeld aan deur middel van byvoorbeeld die Forum vir hoof uitvoerende beamptes,” vertel Maree.
Die nuwe tariewe behoort van April 2013 af van krag te wees.