Die Eskom van die verlede is vir altyd verby. Alle betrokkenes in die Eskom-omgewing moet dit begin besef en daarmee vrede maak, want Suid-Afrika se tyd loop uit om volhoubaar energie te kan opwek. Só sê mnr. Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom.
Hy het onlangs met Landbouweekblad gesels oor die stand van die land se nasionale kragverskaffer, beurtkrag, en Eskom én sy eie toekomsplanne.
Hy erken beurtkrag het ’n reuse-impak op die landbou en dat verskillende beurtkragfases boere se skedules om byvoorbeeld te besproei en te melk, lelik kan omkrap; veral as hulle nét kan besproei tydens Eskom se spitstarieftye.