
Verskeie ministers en Eskom se nuwe waarnemende hoof het Vrydag meer detail gegee oor wat die ramptoestand oor die kragkrisis behels.
Die ramptoestand is al op 9 Februarie afgekondig. Die ramptoestand sal drie maande duur waarna dit maandeliks, soos nodig, verleng kan word.
Dr. Nkosazana Dlamini Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Vrydagoggend saam met ander ministers, onder andere me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en mnr. Calib Cassim, waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, aan die regering se mediakonferensie oor die ramptoestand deelgeneem.
Cassim het gesê Eskom se eerste doelwit is steeds om beurtkrag uiteindelik te verminder. Hy het bygevoeg die land moet vlak 6-beurtkrag “verwerp.”
“Die buigsaamheid wat Eskom nou het om binne regeringsregulasies krag te verkry, laat geen plek meer oor vir verskonings vanaf Eskom en sy opwekkingsvermoë om reeds van vandag af beurtkrag die toekoms in te verminder nie.”
Korrupsie só beveg
Dlamini Zuma het tydens die konferensie vrese probeer besweer oor korrupsie wat kan plaasvind gegewe die ramptoestand in die lig van die korrupsie wat tydens die covid-19-ramptoestand kop uitgesteek het. Volgens haar sal intydse oudits en maandelikse verslae aan portefeuljekomitees oor finansies keer dat korrupte bedrywighede weer posvat.
Sy het bevestig daar is reeds twee hofsake aan die gang oor die instelling van die ramptoestand.
Landbou kry aandag
Dlamini Zuma het in haar openingstoespraak gesê die ramptoestand is nodig om lewens te spaar en die gevolge op die samelewing en sektore in die ekonomie te probeer beperk. Sy het onder meer melding van die landbou gemaak deur te verwys na pluimveeboere wat hoenders moet slag weens die impak van beurtkrag, en melkboere wat duisende liters melk moet weggooi omdat dit suur word.
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het juis vandeesweek bekend gemaak dat beurtkrag produsente reeds 75 sent per kilogram geproduseerde hoender kos.
Didiza het gesê haar departement werk al geruime tyd saam met landbou-organisasies en landbou-ondernemings oor die impak en gevolge van beurtkrag en die kragkrisis op die sektor, en bedrywighede binne die sektor.
“Ons werk ook nou saam met die nasionale landboubemarkingsraad en die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP). Daar is ook reeds ’n intensiewe opname reg oor Suid-Afrika onder boere gedoen om uit te vind hoe die kragkrisis hulle raak.”
Sy het gesê hierdie opnames het haar departement gehelp om met Eskom te gesels oor moontlike korttermynmaatreëls vir die bedryf. “Ons moet veral voedselsekerheid beskerm,” het sy gesê.
Volgens haar is van hierdie maatreëls gemik op spesifieke dele in die bedryf waar produksie veral staatmaak op besproeiing en vervaardiging. “Ons kyk hoe produksie kan voortgaan en die maksimum tyd vir besproeiing moontlik gemaak word.”
Volgens haar ondersoek die departement finansieringsmoontlikhede om besighede te help wat hernubare energie wil inspan in hul bedrywighede. Meer besonderhede sal mettertyd gegee word.