
Luidens ’n verklaring van Eskom is ’n man gister by die Camden-kragsentrale in hegtenis geneem nadat sy vragmotor by die kragsentrale opgedaag het met ’n swakker gehalte steenkool as die hoë-graadse vrag wat oorspronklik daarop gelaai was.
Hoewel die vragmotor die Wonderfontein-steenkoolmyn met die regte graad steenkool verlaat het, is dié vrag vermoedelik op pad omgeruil. Die perseel waar dié misdaad plaasgevind het, is bekend vir onwettige bedrywighede, volgens Eskom.
Die aangekeerde bestuurder voer aan een van die werknemers by die Wonderfontein-myn het hom beveel om na die betrokke perseel in Middelburg te ry voordat hy verder na Camden kon reis. Die vragmotor behoort aan ’n kontrakteur wat steenkool aan Eskom lewer.
Bidvest Protea Coin se taktiese taakspan wat deur Eskom aangestel is om diefstal van steenkool, diesel en brandstof te ondersoek, het die vragmotor opgemerk toe dit die onwettige steenkoolperseel verlaat het. Die span het die vragmotor gevolg en by die Camden-kragsentrale voorgekeer.
Volgens die verdagte het die sekuriteitspersoneel by die myn hom toegelaat om die perseel te verlaat sonder dat die vrag volgens spesifikasies geseël was. Volgens protokol moet die seëls ongeskonde bly totdat vragte ’n Eskom-kragsentrale bereik waar eers vasgestel moet word of met die vrag gepeuter is voordat vragte afgelaai mag word. Die bestuurder het egter die seëls by hom gehou en dit is eers by die onwettige perseel opgesit nadat die steenkool omgeruil is.
“Ons het agtergekom dat die prosesse doelbewus deur sommige misdadigers by die myne, vervoerders en Eskom self omseil word,” lui die verklaring.
“Goeie gehalte steenkool wat met swak, weggooibare steenkool vervang word, veroorsaak ernstige nadelige gevolge vir aanlegte en die produksie by kragsentrales. Diefstal van steenkool is deurdagte georganiseerde misdaad waarby sindikate betrokke is. Eskom verloor steeds miljarde rande weens die wanaanwending van steenkool en soortgelyke kommoditeite wat produksie direk raak.”
Een van die ondersoekers van Protea Coin is selfs R50 000 aangebied om die bestuurder te laat gaan, maar dié omkoopgeld is van die hand gewys. Eskom waarsku daar is verskeie onwettige steenkool-persele in Mpumalanga waar gesteelde steenkool opeindig.
Die bestuurder is in hegtenis geneem en die vragmotor en wa is geskut. Volgens Eskom word nog inhegtenisnemings in verband met die saak verwag.
Twee vragmotorbestuurders is twee weke gelede by dieselfde kragsentrale in hegtenis geneem nadat hulle betrap is met vragte gesteelde steenkool.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.