
Nersa het Donderdag tydens die bekendmaking van die verhoging van die kragtarief met 18,65% kommer uitgespreek oor die feit dat Eskom so sterk staatmaak op sy oopsiklus-gasturbines om krag te verskaf deur die verbranding van diesel.
Nersa se besluit oor die verhoging van 18,65% teenoor Eskom se aansoek van 32% beteken Eskom mag net R318 miljard se totale inkomste met die verhoging verhaal. Eskom het in sy September-aansoek gevra vir R351 miljard se inkomste.
Nog voor Donderdag se aankondiging hieroor het Nersa in ’n vergadering gesê Eskom maak te gereeld gebruik van die oopsiklus-gasturbines wat veronderstel is om net in noodgevalle ingespan te word om krag op te wek.
Eskom het in sy September-tariefaansoek vir 2023-’24-tariefjaar die groen lig gevra om net onder R17 miljard aan diesel te mag bestee, maar Nersa het Donderdag gesê slegs R8,4 miljard word vir diesel toegestaan.
Volgens Eskom se finansiële resultate vir die vorige boekjaar wat in Desember beskikbaar gemaak is, het die kragentiteit R14,7 miljard aan diesel bestee, meer as dubbeld die R7 miljard wat aan hom toegeken is.
Nersa wil ook hê Eskom moet sy energiebeskikbaarheidsfaktor tot meer as 65% verhoog gedurende die opkomende tariefjaar en vir die 2024-’25-tariefjaar mik vir 72%.
Eskom het Vrydag in ’n verklaring gesê dit is duidelik Eskom en Nersa stem saam oor pogings wat nodig is om die energiebeskikbaarheidsfaktor by Eskom se kragsentrales te verbeter. “Die tekorte in kapasiteit as gevolg van Eskom se vertoning en die vertragings met projekte met onafhanklike kragverskaffers moet aangepak word,” luidens die verklaring.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.