Subsidies aan Europese boere sal nooit weggeneem word nie. Dit is slegte nuus vir veral subsidielose Suid-Afrikaanse boere wat op ’n ongelyke speelveld met hul eweknieë in die res van die wêreld moet meeding.
Mnr. Roger Waite, woordvoerder van mnr. Dacian Cioloç, landboukommissaris van die Europese Unie (EU), sê die EU se landboubeleid (CAP) word tans hersien.
Dit moet ná volgende jaar ’n nuwe gedaante hê, maar die afskaffing van subsidies aan boere is beslis nie op die sakelys nie. Daarvoor is die boere té veel van daardie betalings afhanklik, want hulle is onder groot druk van hoë koste van onder meer produksiemiddele en arbeid.
Ekologiese druk, “meer as op enige ander plek ter wêreld”, is ook ’n faktor. Dit is realisties om te aanvaar subsidies sal nooit verdwyn nie,” het hy op ’n vraag van Landbouweekblad gesê.
Wêreldwye ontwrigting
Die wegneem van subsidies sal volgens hom tot groot ontwrigting elders ter wêreld lei. Die belastingbetalers is boonop gewillig dat hul geld na die boere gaan. Cioloç het gesê ’n witskrif oor die beoogde veranderings van onder meer betalings aan boere is reeds bekend gemaak en lidlande van die EU kan nou sê hoe hulle daaroor voel.
Hy voorsien onder meer geld vir navorsing om in die groter eise van die groeiende wêreldbevolking te kan voorsien. Wat hom opval, is dat die landbou nie meer so aantreklik vir nuwe toetreders is nie, “want plaaswerk is harde werk”.
Hy is egter bemoedig deur ’n besoek aan Ierland, waar dit opvallend was hoeveel jong mense in ’n landbouloopbaan belang stel. Daarom werk hy nou met daardie land se vereniging vir jong boere om planne te beraam om boerdery aantrekliker te maak.
31 Januarie 2012