
Die teenstortingsbeweging FairPlay het nuus oor inhegtenisnemings rakende onder meer beweerde belastingontduiking met ingevoerde hoendervleis verwelkom.
Luidens FairPlay se nuusbrief van gister het die Gautengse polisie gesê twee mans en ’n vrou is in hegtenis geneem vir beweerde bedrog, korrupsie en oortreding van die Doeane- en Aksynswet (Wet 91 van 1964).
Volgens die polisie is sowat 27 000 kg hoendervleis by ’n opbergingsaanleg in City Deep, Gauteng, gevind, en nog vier houers hoendervleis op ’n ander plek, waar die eienaar na bewering nie wettige dokumente hiervoor kon lewer nie.
Een van die mans het na bewering die polisie omkoopgeld van R800 000 aangebied om inhegtenisneming te voorkom. Volgens FairPlay het die polisie gesê sy lede het inligting opgevolg oor mense wat wanvoorstellings oor goedere doen om die betaling van belastings en BTW te ontduik.
Volgens FairPlay is meer inligting nog nie beskikbaar nie. Dit is nog onbekend wie die mense is wat in hegtenis geneem is, of hulle die besending by iemand anders gekoop het, waar die hoendervleis vandaan kom, waarheen dit op pad was, en of nog inhegtenisnemings verwag word.
FairPlay sê die inhegtenisnemings is goeie nuus vir wat in die pluimveemeesterplan onderneem word. Dit kan ’n deurbraak wees in die veldtog om onwettige handel te voorkom.
“Dit is die eerste inhegtenisnemings sedert die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) deel geword het van die meesterplan-taakspan wat hom toespits op die uitwysing en bestryding van onwettige handel in hoendervleis, soos die onder- of wanverklaring van produkte om die betaling van invoertariewe en -belasting te ontduik.
“As dit tot ’n verhoor lei, sal almal betrokke in die pluimveebedryf baie in die verrigtinge belang stel,” sê FairPlay.
Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), het by navraag gesê dié beweerde oortredings is beslis nie ’n uitsondering nie. “Ons loof SAID vir dié belangrike werk, wat nie net die bedryf help nie, maar ook ekonomiese groei en werkskepping bevorder.”