
“Falcon sal maar weer moet dink – ons is nog lank nie klaar met ons aksies teen hidrobreking in die Karoo-kom nie.”
Dít is die reaksie van mnr. Jonathan Deal, hoof uitvoerende beampte van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) ná Falcon se aankondiging dat hy binnekort ‘n reeks vergaderings gaan hou om planne vir die eksplorasie van skaliegas in ‘n gebied van 30 000 km² van Aberdeen tot by Sutherland te bespreek.
Me. Doreen Atkinson, die sekretaris van die Karoo-ontwikkelingstigting (KOS) het haar stem by dié van Deal gevoeg. “Die proses van openbare deelname is uiters belangrik. Alle organisasies en individue móét daarvan kennis neem. Dit sluit die landbou, gesondheid, toerisme, besigheidsontwikkeling, vervoer en omgewingsbestuur. Die Karoo het nog nooit so ‘n uitdaging beleef nie.
“Ons weet nie wat die resultaat van die openbare deelnameproses sal wees nie – sal dit skaliegas kan stuit? Óf sal dit ten minste die implementering daarvan vertraag? Dit is ‘n leerproses. Ons moet egter van meet af proaktief wees, en verstaan hoe die proses werk, sodat ons dit kan beïnvloed. Daar is geen ruimte vir apatie nie,” het Atkinson aan Landbouweekblad gesê.
Mnr. Barries Snijman van Vleikuil Boerdery, Rietbron, sê die aankondiging is ’n groot skok. “Met die skerp daling in oliepryse het ons gereken die maatskappye wat aansoek vir hidrobreking gedoen het eers hulle planne agterweë sou laat. Nou besef ons dit is ’n werklikheid waarmee ons sal moet saamleef. Dit skep groot onsekerheid. Ek benader dit egter met ’n oop gemoed en gaan op my regte as grondeienaar aandring.”
Snijman sê die boere van Rietbron sal almal die vergadering op 9 Februarie in die gemeenskapsaal bywoon. “As dit gaan oor die eksplorasie op ons grond, móét dit binne die riglyne van billikheid geskied. Ons sal die hulp van kenners inroep om ons te adviseer. Ons gaan nie toelaat dat hulle ons met mooipraatjies oorrompel nie. Ons grootste kommer is waterbesoedeling en hoe om jou boerdery voort te sit met ’n groot aantal voertuie wat oor jou plaas beweeg, die veld beskadig en hekke wat oopgelaat word.”
Mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê geen skriftelike onderneming is nog van die betrokke maatskappye ontvang dat die soeke ná én ontginning van skaliegas nié waterbronne sal besoedel nie. “Ons het ’n dokument met ons voorwaardes opgestel. Ons wil nie hê dat die Regering beide speler en skeidsregter moet wees nie. Daar moet onafhanklike waarnemers aangestel word en die betrokke maatskappye moet vir hulle dienste betaal. Hulle moet verkieslik aan akademiese instellings verbonde wees. Daar móét waarborge wees dat boere behoorlik vergoed sal word, sou besoedeling in enige vorm opduik,” het Pringle benadruk.