
“Eskom is die olifant in die vertrek wat ons waarskynlik van die geleentheid gaan ontneem om ons ekonomie te herstel. Ons sal moet sien hoe vinnig die regering Eskom kan stabiliseer, maar dit lyk of fase 6-beurtkrag die norm gaan wees in 2023,” het mnr. Isaac Matshego, ekonoom van Nedbank, op Vinpro se jaarlikse inligtingsdag in Kaapstad gesê.
Dit sal voordelig wees as Suid-Afrika kan terugkeer na fase 4-beurtkrag, maar hy maan Suid-Afrikaners moenie verwag om gou weer op fase 2 te wees nie. “Dalk kan ons weer teen volgende jaar op fase 2 wees, en daarna sal ons hopelik sien dat onafhanklike kragproduksie begin toeneem.”
Hy verwag dat beurtkrag nog meer as twee jaar ‘n belangrike faktor in Suid-Afrika gaan wees.
“Ek het gehoor die minister van finansies meen beurtkrag gaan binne 12 tot 18 maande iets van die verlede wees. Ek was laas só optimisties to pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar die verbod op private kragopwekking opgehef het. Tóé het ek gedink beurtkrag sal teen 2025 oor wees, maar nou dink ek nie meer so nie. Die skade by Eskom is net te diep. Beleggings (in onafhanklike kragproduksie) gaan ook nie so vinnig gebeur as wat ons gedink het nie, want weens hoë internasionale inflasie het materiaalkoste die hoogte ingeskiet.”
Volgens Matshego is fase 6 die eerste keer in 2019 ingestel, toe Suid-Afrika sowat 30 uur daarvan beleef het. “Tans ervaar ons meer van fase 6 as van enige ander fase. Dit gaan ekonomiese herstel belemmer.”
Volgens Matshego beleef Suid-Afrika tans sy tiende jaar van ’n ekonomiese afswaai. Nie net is die langste ekonomiese afswaai nie, maar die tydperk rondom 2020 was ook die diepste in die geskiedenis.
“Die ekonomie sukkel tans om terug te kom op vlakke waar ons was in 2019, toe die ekonomie met ’n halwe persentasiepunt gegroei het. Dit is weens internasionale faktore, maar ook skade wat ons self op plaaslike front toegedien het. Die sleutel hiervan was beurtkrag weens onvoldoende kragvoorsiening.”
Hy verwag dat Suid-Afrika nog drie tot vyf jaar lank op ’n stadige groeipad gaan wees.
Nog twee rentekoerse verhogings, dan verligting
Ten spyte van die ondoeltreffendhede, glo Matshego die Suid-Afrikaanse Reserwebank het inflasie goed bestuur. Hy verwag inflasie sal teen die tweede helfte van vanjaar weer onder 6% wees.
“Internasionale verskaffingskettings was ’n groot aandrywer van inflasie, en oor die algemeen sien ons nou die druk op die verskaffingsketting verlig. Oliepryse lyk ook gunstig, hoewel dit kan styg as die Chinese ekonomie vinniger herstel as verwag.”
Inflasieverligting behoort verbruikers aan te moedig om meer te bestee en ekonomiese groei aan te help.
Matshego verwag nog twee klein rentekoersverhogings van ’n kwart persentasiepunt elk volgende week en weer in Maart. Daarna sal rentekoerse waarskynlik onveranderd bly, met die eerste verlagings wat hy vroeg volgende jaar verwag, mits verhoogde produksiekoste (weer eens weens beurtkrag) nie lei tot verhoogde inflasie nie. Dán sal die rentekoersverlagings eers later in 2024 volg.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.