Die mielie-oes is in die laaste produksieskatting met minder as 2% oorskat.
Dit is gerieflik binne die internasionale afwyking-norm van 5% vir oesskattings.
Die Nasionale Oesskattingskomitee het pas in ‘n vergadering onder voorsitterskap van ‘n lid van die Nasionale Landboubemarkingsraad die afgelope seisoen se somer-oeste finaal bereken.
Die uiteindelike mielie-oes is 12,815 miljoen ton. Dit is 228 000 ton minder as met die laaste produksieskatting in September, en laat steeds ‘n verwagte oorskot aan die einde van die bemarkingjaar wat, volgens Graan SA se berekenings, ‘n derde van die verwagte jaarlikse verbruik verteenwoordig.
Die geelmielie-oes was in die September-skatting met bykans 5% oorskat, en die witmielie-oes met 0,1% onderskat. Die finale witmielie-oes (wat ‘n besonder groot oorproduksie verteenwoordig) is 7,83 miljoen ton, en die geelmielie-oes net onder die 5 miljoen ton.
Hierteenoor is die sonneblomsaad- en sorghum-oeste in die laaste skatting in September ver oorskat – met onderskeidelik 5,4% en 12%.
Die September-skattings van die sojaboon- en grondboon-oeste was nader aan die kol: Met onderskeidelik 0,9% en 0,1% onderskat.
29 November 2010