Die mensdom se eetlus is besig om die aarde oor sy planetêre grense te druk, terwyl dit terselfdertyd ook ’n gesondheidsrisiko skep. Die mens én die planeet se voortbestaan word daardeur bedreig.
Gesonde diëte wat deur ’n volhoubare voedselstelsel verskaf kan word, is dus ’n dringende vereiste vir die groeiende bevolking wat teen 2050 10 miljard kan bereik.
In ’n verslag wat in Januarie 2019 uitgereik is, “Food in the Anthropocene: The EAT-Lancet Commission on healthy diets from sustainable food systems”, het 19 kommissarisse en 18 mede-outeurs van 16 lande vanuit verskeie velde, soos gesondheid, die landbou, politiek, voeding, ekonomie en omgewingstudies, gesamentlik ’n stel wetenskaplik bepaalde teikens vasgelê om as riglyn vir produsente, verbruikers én beleidsmakers te dien.