
Die Future Farmers-stigting het hul elfde bestaansjaar onlangs gevier en talle toekennings aan jong boere toegeken. Die stigting gee geleentheid aan aspirantboere om in-diensopleiding te ondergaan en die komende jaar beoog hulle om weer meer as 100 studente oorsee te stuur op een-jaar-internskappe.
Van die stigting se voormalige studente is nou plaasbestuurders, onder meer mnr. Lungelo Mathenjwa, wat tans die plaasbestuurder is vir mnr. Lance Rorich van Swartberg in die suide van KwaZulu-Natal (KZN). Op die boerdery is hy verantwoordelik vir meer as 5 000 beeste en 4 000 skape oor nege verskillende plase.
“Dit is slegs te danke aan kommersiële boere, wat bereid was, en steeds is, om ons as groentjies in te neem, ’n kans te gee en ons touwys te maak, dat ons is waar ons is. Mnr. Rorich vertrou my om my kuddes se eie bulle en ramme te kies, om die werkers op die plaas te bestuur en om besluite in die boerdery te neem. Dit is ’n ongelooflike gevoel en motiveerder en dit terwyl ek doen waarvoor ek lief is – boer,” het Mathenjwa by die geleentheid gesê.
Goeie toekoms wag
Oor die afgelope jaar het Kwanalu hul gewig agter die stigting ingegooi en befondsing van AgriSeta gekry, wat dit moontlik gemaak het vir 100 ekstra jong swart mense om by die program in te skakel.
Volgens me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, lyk die toekoms van die landbou goed. “Dit is verblydend om te sien hoe kommersiële boere hul toewyding aan die toekoms van die landbou gee in hierdie program.”
Die waarnemende direkteur vir landboudienste by die KZN se departement van landbou, mnr. Isaiah Mahlangu, het die al die kommersiële boere vir hul betrokkenheid bedank. “Julle, saam met die jong mense hier voor my, is die agente vir verandering in hierdie land. Julle is die leiers van môre en dis verfrissend om te sien hoe positief en passievol julle is oor ’n bedryf wat deur baie negatiwiteit geteister word,” het Mahlangu gesê.