
Dit is vanjaar die 30ste jaar sedert die ontstaan van die FW de Klerk-stigting op 2 Februarie 1990.
De Klerk het ’n blik op Suid-Afrika se pad na die grondwetlike, demokratiese bestel weergegee en waarheen dit oppad is.
Hy het gesê die faksies wat die ANC sedert 2007 lei, het geen oogmerk om die ooreenkomste te eerbiedig wat in die Grondwet van 1993 en 1996 ingesluit is nie.
“Pleks daarvan glo hulle steeds dat hulle betrokke is in ’n voortdurende revolusionêre stryd om ’n fundamentele verandering in die struktuur, stelsels, instellings, eienaarskappatrone, bestuur en beheer van die ekonomie te bring.” Hy het gesê dat die land op die verkeerde ideologiese pad is en dat die ANC vasbeslote is om die pad na die nasionale demokratiese revolusie (NDR) en sosialisme te volg ten spyte van die katastrofiese gevolge.
“Die ernstigste manifestasie van die ANC se verbintenis tot die NDR en sosialisme is sy vasbeslotenheid, blykbaar tot elke prys, om artikel 25 van die Grondwet te wysig om dit moontlik te maak vir die staat om eiendom sonder die betaling van vergoeding te onteien.”
Die ANC het onlangs aangedui dat hy eerder wil sien dat die uitvoerende gesag as die howe moet besluit of ’n vergoedingsbedrag betaalbaar is, asook wat die bedrag moet wees.
Ekonomiese welstand
De Klerk het gesê daar is ’n korrelasie tussen die erkenning van eiendomsreg en ekonomiese welstand, die invloei van beleggings, politieke- en gemeenskapsvryheid, menslike ontwikkeling en goeie regeringsbestuur.
Die 20% lande wat eiendomsreg die beste beskerm, presteer die beste in elke belangrike kategorie van maatskaplike sukses, het hy gesê.
Hul per capita-inkomste is nege keer hoër, hulle kry 22 keer meer belegging per capita, geniet hoër vlakke van menslike ontwikkeling en hul regeringsbestuur is beduidend beter. Die belangrikste faktor is dat hulle openbare en politieke vryheid het, terwyl lande wat hul eiendomsreg die minste beskerm, nie vry is nie.
Hy het hom ook sterk uitgespreek teen die regering se openbare diskoers wat al hoe meer deur afbrekende rassteriotipes gekarakteriseer word.
“Wit Suid-Afrikaners word uitgekryt as die draers van die oorspronklike sonde; aan hulle word gesê dat hulle nie die regmatige eienaars van die grond is waarvan hulle wettige titelaktes het nie; hul relatiewe welvaart is nie die resultaat van hul eie harde werk, kwalifikasies en vaardigheid nie, maar van die geskiedkundige uitbuiting van ander; hulle word die sondebokke gemaak van alle voortslepende probleme van die land, insluitend werkloosheid, ongelykheid en armoede; ’n regter van die Grondwethof sê hul kultuur moet in die vullisdromme van die geskiedenis begrawe word en daar word na hulle verwys as kolonialiste, vreemdelinge wat nie regtig in Suid-Afrika hoort nie en wat absoluut geen opbouende bydra tot die land gelewer het nie.”
Dié soort steriotipering skep ruimte vir selfs meer radikale elemente om etniese vyandigheid op te sweep en die gevaar van rassekonflik te verhoog. De Klerk het ’n beroep op die ANC gedoen om die weg waarop hy beweeg te verander.