
Die oud-landbouminister Thoko Didiza gaan terug Parlement toe. Didiza, wat die Minister van Landbou en Grondsake van 1999 tot 2006 was, is 15de op die ANC se kandidatelys vir die Nasionale Vergadering, wat pas bekend gemaak is.
Op die lys skop sy stof in die oë van me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, wat 37ste op die lys is. Vir 'n geruime tyd word reeds bespiegel dat Didiza dalk by Joemat-Pettersson kan oorneem as landbouminister, veral in die lig dat beter samewerking tussen die landboudepartement en die een vir landelike ontwikkeling en grondhervorming moet wees om beter kleinboere in die land te vestig.
By die onlangse beleidskongres van die eenheidsorganisasie vir die landbou, Asuf, het Joemat-Pettersson haar dank aan landbouleiers betoon vir hul steun die afgelope jare.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, is 32ste op die ANC se kandidatelys. Die voorsitter van die portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, mnr. Lulu Johnson, het weer die lys van 200 kandidate gehaal. Sy naam is 83ste op die lys.