Dit gaan uitstekend moet die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) wat net meer as ’n maand gelede as ’n teenvoeter vir Nafu SA gestig is.
Die organisasie se ledetal neem daagliks toe, sê mnr. Mike Mlengana, die organisasie se hoofbeampte. Mlengana, ’n bekende sakeman en ’n groep uitvoerende hoof by Telkom, is tot hoofbeampte verkies. Sy rol is dié van ’n openbare figuur namens die organisasie.
Daar is ook ’n direksie gekies wat die uitvoerende gesag vorm, met mnr. Job Mthombeni van Mpumalanga as die voorsitter. Mlengana sê daar is reeds verskeie gesprekke met regeringslui oor die nuwe organisasie gevoer en verlede week het hy ’n afspraak met verteenwoordigers van die Nederlandse ambassade oor moontlike finansiering vir Afasa gehad.
“Ons word oorval deur mense wat lede wil word, maar nie almal voldoen aan die vereiste om toegang tot grond te hê waarop hulle kan boer nie.” Volgens hom is daar ’n ernstige behoefte aan opleiding vir beginnerboere.
Sterk bande bou
Hy wil graag met Agri SA daaroor praat.
“Ek kom uit ’n landelike agtergrond waar onderlinge samewerking heelwat probleme opgelos het. Dit was die pilaar vir sukses op die platteland.” Hy meen daar is talle sleutelkwessies waaroor Afasa en Agri SA saamstem. Hy wil hom beywer vir groter eenheid.
“As die bevolking ophou om ’n onderskeid tussen swart en wit boere te maak, sal dit ook baie vir landelike veiligheid beteken. As almal oor dieselfde kam geskeer word, sal ’n aanvaller op ’n wit boer besef dat dit my, as ’n swart boer, en my familie net soveel benadeel. Ek sal graag uiteindelik net een organisasie wil sien wat hom vir die welvaart van alle boere beywer.”
Mlengana sê hy sal ook met Nafu SA oor eenheid wil praat. Volgens hom lê die probleem oor die verdeeldheid tussen die twee organisasies nie by Nafu nie, maar by die handelsorganisasie waaruit Nafu ontstaan het.
11 Junie 2011